KAROO NUUS - Die opgradering en asfaltering van Luxoloweg in Thembalesizwe, Aberdeen is onlangs op die Dr Beyers Naudé munisipaliteit se Facebook-bladsy met die hoogste lof besing.
Die projek is, onder andere, bestempel as 'n ware poging van samewerking tussen plaaslike belanghebbendes en die munisipaliteit om te verseker dat daar aan die behoeftes van die gemeenskap voldoen word. Sommige inwoners verskil egter hiermee en is baie ontevrede met die manier hoe die projek uitgerol is.
Geen bekendstelling
Die spesifieke tender is aan die Gqeberha-gebaseerde Platinum Construction toegeken. Volgens Raadslid Eldrige Ruiters is dit die tweede kontrakteur wat deur die munisipaliteit aangestel is nadat die eerste kontrakteur, wat laat verlede jaar aan die gemeenskap voorgestel is, eenvoudig nie opgedaag het vir werk nie.
Inwoners se ontevredenheid spruit uit die feit dat die nuwe kontrakteur glo versuim het om 'n gemeenskapsvergadering te belê om homself en die projekbestuurkommitee bekend te stel, en te vertel hoeveel klein-, medium- en mikro-ondememings (KMMO's) baat sal vind en hoeveel plaaslike werksgeleenthede geskep sal word. "Hy het net opgedaag met sy mense en materiaal en dit is hoe die gemeenskap gesien het hy is hier," sê Ruiters. "Die betrokke wyksraadslid, Yvonne Frazenburg, het eers later 'n vergadering belê en aangekondig dat daar 'n kennisgewing sou uitgaan om die gemeenskap en KMMO's uit te nooi om die projek te bespreek."
Gebrek aan kommunikasie
Ruiters vertel dat daar wel vergaderings op 17 Mei en 20 Mei gehou is, maar dat net die burgemeester en die betrokke raadslid daar was. Die kontrakteur, gemeenskapskakelbeampte en 'n verteenwoordiger van die munisipaliteit se voorsieningsketting was afwesig.
Nadat rolspelers en inwoners hul ontevredenheid oor die gebrek aan kommunikasie op sosiale media uitgespreek het, het die gemeenskapskakelbeampte, net bekend as "Jacobs", 'n vergadering belê waartydens hy glo vir so 15 tot 20 minute alleen gepraat het. "Geen noodsaaklike inligting is gedeel nie en geen vrae is toegelaat nie," sê Ruiters. "Die beampte het net gesê dat die projek nog in die beplanningsfase is en dat hulle wag vir materiaal om afgelewer te word." Hy sê hulle is meegedeel dat net die mense wat by die spesifieke vergadering was in ag geneem sal word vir werk."
Ruiters sê dis hoogs onreëlmatig. "Jy kan mos nie ontneem word van werk net omdat jy nie by 'n vergadering was nie!"
Gemeenskap in duister
Ruiters noem dat die Aberdeen gemeenskap steeds in die duister is. "Sover het niemand nog op 'n regmatige manier gepraat oor die werk wat by die Luxolo-padprojek beskikbaar is nie," sê hy. Hy sê hy het die aangeleentheid by die munisipale raad se uitvoerende kommittee en die departement van infrastruktuurdienste aangemeld maar daar het niks van gekom nie.
'Voorkeur aan verhoudings'
Trevor Noni, hoof uitvoerende beampte van Aberdeen se geregistreerde sekuriteitsmaatskappy, Tremar Security, het aan Jacobs gevra hoekom hulle oor die hoof gesien is vir sekuriteitswerk by die projek.
Noni het die volgende antwoord ontvang: "Ek verstaan jou bekommernis. Ongelukkig verkies ons om met mense te werk met wie ons gemaklik voel, en dit is nie verpligtend vir ons om 'n geregistreerde maatskappy aan te stel nie. Boonop is die mense wat hier werk dikwels onopgeleide individue wat op soek is na geleenthede.
"Wanneer dit by sekuriteit of wagmense kom, gee ons voorkeur aan vertroue en persoonlike verhoudings in ons keuses. Ek hoop jy verstaan ons posisie." Jacobs is genader vir kommentaar maar teen druktyd het hy nog nie reageer nie.Vrae rakende die registrasiebesonderhede van Platinum Construction, asook hierdie en ander projekte waarby hulle betrokke was, is by beide die direkteur van Platinum Construction en die munisipaliteit ingedien maar het onbeantwoord gebly.
Vrae onbeantwoord
Vrae rakende die registrasiebesonderhede van die aangestelde kontrakteur asook hierdie en ander projekte waarby die kontrakteur betrokke was, is by beide die kontrakteur en die munisipaliteit ingedien maar het onbeantwoord gebly.
Trevor Noni van Aberdeen se geregistreerde sekuriteitsmaatskappy, Tremar Security, by die Luxolo-padprojek.
Luxolo Road in Thembalesizwe in Aberdeen word opgradeer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’