GRAAFF-REINET NUUS - Op die koel, bewolkte oggend van Dinsdag 28 Januarie was daar ongekende aktiwiteit by die hoofeiland voor die NG Kerk in Aberdeen se een hoofstraat, Andries Pretoriusstraat.
Vier manne in blou oorpakke het vir die alombekende, groot padbord 'n splinternuwe baadjie gegee en enkele ure later het inwoners se boodskappe van blydskap en dank op sosiale media ingestroom.
Net so bekend soos die kerkgebou self, is die groot padpredikant voor die kerk.
Dié bord, wat vir motoriste aandui watter roetes na buurdorpe Willowmore, Beaufort-Wes en Klipplaat gevolg kan word, was egter al vir etlike jare so verweer dat dit kwalik nog 'n roetewyser genoem kon word.
Sonverbleik met die letters skaars leesbaar, het die bord boonop skeef gehang en was dit vir menigte Aberdener 'n balk in die oog.
Plaaslike raadslede, asook die burgerlike organisasies ARRPA (Aberdeen Residents and Ratepayers Association) en ATA (Aberdeen Toerisme Assosiasie) het oor die jare die verleentheidsbord onder die munisipaliteit se aandag gebring, maar tevergeefs.
Klaarblyklik is klaers telkens van bakboord na stuurboord gestuur met die deurlopende antwoord dat hulle onseker is oor presies watter owerheid (nasionaal, provinsiaal of plaaslik) verantwoordelik is vir die bord.
Jurgens Strydom, voorsitter van ATA, sê een van ATA se lede, Dowefontein Karoolam, het verlede jaar die voorstel gemaak dat ATA die bord laat hernu.
"Die bord is een van die eerste gesigte wat toeriste, wat die dorp binnekom van Graaff-Reinet se kant af, sien en die beeld van verweer en verval is nie wat 'n toeris behoort te sien nie."
Hy bevestig die stryd wat al jare gestry word met die owerhede oor dié bord. Strydom sê met die padpredikant in sy nuwe baadjie beoog ATA om vanjaar die stryd met die owerhede voort te sit, want "... daar is geen ander roeteaanwysers in Aberdeen nie.
"Motoriste van rigting Willowmore, Klipplaat en Beaufort-Wes moet maar self weet hoe hulle deur die dorp moet navigeer op pad na die volgende dorp".
Hy sê ook dat ATA hulle vanjaar sal beywer vir die oprig van meer inligtingsborde in die groter Aberdeen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’