GRAAFF-REINET NUUS - Bettie Brits van Cradock het op 14 Januarie haar 96ste verjaardag gevier, en was bevoorreg om die geleentheid in Gqeberha, saam met van haar kinders te vier, tydens een van die vele uitstappies waarvoor sy so lief is.
Bettie is op 14 Januarie 1929 gebore en is steeds fiks en gesond.
Bettie en haar oorlede eggenoot, Wikus, is op 19 Junie 1948 in Colesberg in die huwelik bevestig, en het in 1967 na Cradock verhuis.
Wikus het hom bekwaam as hoof-werktuigkundige en voertuigondersoeker by die destydse Cradock-munisipaliteit, en was welbekend in Cradock waar hy as bekwame musikant sy boereorkes bedryf het.
Bettie se kinders vertel dat sy haar man in alles ondersteun het, terwyl sy 'n tuisteskepper van formaat was en 'n uitstekende ma vir hul vyf kinders. Bettie en Wikus was vir byna 65 jaar getroud met sy afsterwe op 83 in 2013.
Bettie woon die afgelope 19 jaar by haar jongste seun Chris en sy vrou, Elmari, in Cradock.
"Ek is gesond genoeg om elke dag nog te geniet en ek lees graag.
"Ek geniet die natuur ook baie en kuier ook graag by my kinders. Hulle dra my op die hande en dis heerlik om so bederf te word.
"My vyf kinders en hul gades het gesorg dat ek altesaam 31 klein- en agterkleinkinders het," vertel die verjaardagmeisie.
Haar seun Chris vertel dat hulle familie dankbaar en bevoorreg is om nog hul ma, op 96-jarige ouderdom, as 'n op-en-wakker ouma te beleef en hulle hoop op nog vele geseënde jare.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’