GRAAFF-REINET NUUS — 'n Ervare en passievolle musikus van Graaff-Reinet wil 'n uitgesoekte kinderkoor in Graaff-Reinet begin.
Ilse Burger is die stigter en koorleier van dié koor, die 'Graaff-Reinet Angels', wat eersdaags op die been gebring gaan word.
Dié koor - die eerste van sy soort in die gebied - is die hartewens van Burger, wat sinoniem is met musiek in die dorp.
"Ek wil jongmense tussen ongeveer 9 en 16 jaar uit al die woonbuurte van Graaff-Reinet bymekaar bring en 'n Graaff-Reinet kinderkoor begin, dalk selfs 'n junior en 'n senior koor," sê Burger, wat tans musiekonderrig aan kinders van verskeie skole by haar privaat musiekskool gee.
"Die doel met so 'n koor is om talentvolle sangers die geleentheid te bied om hul musiek-talent te ontwikkel en hulle so te bemagtig vir 'n beter toekoms. Dit is vir my al jare 'n passie om deur middel van veral koorsang mure af te breek, kultuur-grense oor te steek, ou negatiewe denkpatrone te verander in positiewe drome. Verder is dit volgens wêreldwye studies fantasties vir 'n kind se brein-prosesse om koor te sing. Ek het onlangs 'n hele studie daaroor gedoen. Kinders wat sing begin beter presteer, hulle begin beter oor hulself voel, dit werk depressie teë, dit stimuleer die hele brein omdat kinders meer analities begin dink."
Skole van Graaff-Reinet word almal genooi om deel te wees van die proses om leerders te identifiseer en te help registreer vir oudisies. Burger sal graag saam met alle skole werk, soos sy al jare lank gedoen het in Pietersburg, Bethlehem en Stellenbosch waar sy ook kore gestig het.
Die oudisies sal eersdaags geskied. Burger sal self na die individue se stemplasing, musikaliteit en intonasie luister en die finale stemme kies waaruit die koor sal bestaan.
Volgens Burger hoef die leerders wat registreer om aan oudisies deel te neem nie musiek te kan lees nie, want hulle sal deur blootstelling aan koormusiek musieknotasie stelselmatig leer.
Die koor sal weekliks oefen.
"Elke koorlid se suksesvolle deelname sal van ouers se toewyding afhang, siende dat die ouers moet sorg dat lede die oefening bywoon," sê Burger.
Burger vertel, "Ek het vanaf 1980 verskeie sanggroepe en kore onderrig. Een van my eerste skoolkore in Wynberg het deurgedring na die semi-finale van die SAUK-koorkompetisie in 1982. In 1986 in Pietersburg het ek 'n Stadskoor gestig. Saam met my dogterskoor en Laerskoolkoor het ons groot koorfeeste gereël, massakoor-uitvoerings, buitelug Kers-aande en 'n groot Musiek-revue opgevoer wat ekself geskryf het. In Bethlehem, 1992, het ek die eerste veelrassige Mannekoor gestig wat oral opgetree het in die omgewing.
"In Stellenbosch het ek in 2000 'n yslike seunskoor by Paul Roos Gimnasium gestig, met omtrent die hele eerste span in die koor. My koor-hoogtepunt was in 2000 tot 2005 toe ek twee kore gestig het by Laerskool Weber Gedenk, net buite Stellenbosch, met hoofsaaklik plaaskinders uit baie arm en moeilike omstandighede. Omtrent die hele skool het koor gesing!"
Diegene wat belangstel om vir 'n oudisie te kom, kan Ilse Burger by 072 385 6613 of 072 563 2893 of ilseburgermusicschool@gmail.com kontak vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'