KAROO NUUS - Raadslid Joy Williams, Dr Beyers Naudé-munisipaliteit se beskermingsdienste en die departement van gesondheid se distriksverteenwoordiger, het verlede Vrydagoggend 'n klopjag by spazawinkels in Wyk 4 uitgevoer.
Williams sê dit was 'n groot sukses aangesien hulle die eienaars van sommige van die winkels heterdaad kon vastrap en beslag kon lê op ou voorraad wat reeds meer as 'n jaar gelede verval het. Winkeleienaars wat ekstra gelde hef vir elektrisiteit en lugtyd, is ook oor die vingers getik.
Tydens die klopjag is alle buitelanders versoek om die nodige immigrasiedokumentasie – paspoorte en werkspermitte – en die registrasiebriewe van hulle winkels te toon, maar volgens Williams kon die meeste van hulle dit nie doen nie. Hulle is sewe dae gegee om dit by die departement se distriksverteenwoordiger te gaan wys en diegene wat versuim sal aangeslaan word.
Ongelukkig kon die klopjag net by drie spaza-winkels uitgevoer word. "Ons bestee omtrent 'n uur in een winkel en in daardie tyd word die ander winkeleienaars gewaarsku," verduidelik Williams. "Die ander winkels waar ons nog die klopjag wou uitvoer was almal gesluit toe ons daar kom!"
Sy sê egter dat hulle nou op 'n gereelde basis klopjagte gaan uitvoer om seker te maak dat die spazawinkels aan die nodige regulasies voldoen.
Raadslid Joy Williams tydens die klopjag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’