KAROO NUUS - Daar is maande aan ou motors gewerskaf sodat daar weer vanjaar die jaarlikse Ou Karrit aangepak kan word.
Vanoggend, 19 April, het die manne aangesit vir ‘n luukse ontbyt by die Victoria Boetiek Hotel in Hofmeyr voordat almal gesteweld en gespoor die stofpaaie van oujare vat - op ‘n roete wat hul neem oor Maraiskrans en dan oor die Groot Doornhoekpas.
Vandag se roete sluit in besoekpunte by Shaun Vermaak op Zuurfontein en Meyburg Erasmus op Osfontein. Dan gaan die manne ook die Ouma by die beskuitfabriek in Molteno opsoek.
Die roete word vanaand afgesluit by Rooipoort waar almal oornag. Die ou manne kry ’n bed en dié wie se rûe en knieë nog buig slaap op die vloer of in tentjies.
Die roete is deur Johan Vermaak beplan. Altesaam 12 ou voertuie met 24 manne pak die roete aan.
Geen vroue word toegelaat nie! Elke voertuig het ‘n bestuurder en navigator en elke man moet sy eie proviand voorsien, hetsy dit gebottelde of geblikte toebroodjies is en ‘n tjop vir op die vuur.
Slaapsakke, kampstoele, koelsakke, en bowenal flitse en kopligte vir die alombekende duister ure is verpligtend.
Elke voertuig is ook toegerus met ‘n moersleutelstel en spannerblik wat nog op daai jare se boute en moere pas. Geen mens sal weet of daar ‘n sleeptou of noodhulpkissie ingepak is nie. Mooi ry manne! Julle vrouens wag in spanning by die huis!
'n Laaste aansit voor die uittog van ou karre uit Hofmeyr.
Hierdie donkerbruin Chev-plaasbakkie kon nie wag om die stofpaaie te vat nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’