GRAAFF-REINET NUUS - In die berig 'Brand dreig steeds om Cypress Grove' het die Advertiser met verskeie partye betrokke by die bestryding van die brand, gepraat.
Dit het na die berig se plasing onder die Advertiser se aandag gekom dat daar ook, voortspruitend uit die brand van die Sondagsrivier, ‘n brand in uMasizakhe op dieselfde dag was.
Die Advertiser het met die waarnemende brandweerhoof, Bennito Herandien, gesels oor die voorval. Volgens Herandien het hulle op 20 Februarie omstreeks 13:10 ‘n oproep ontvang van ‘n veldbrand wat in die Sondagsrivier, agter die DBV, ontstaan het.
Hulle het onmiddelik reageer en ‘n span uitgestuur om die brand in die rivier te bestry.
Hy sê die wind het opgekom en die brand opgestoot teen die bult na uMasizakhe se rigting.
Hernandien bevestig dat hy en sy personeel dadelik op die brand in uMasizakhe reageer het. Hulle het brandbestryders uit die rivier onttrek en ook die brandweerwa na die omgewing gestuur.
Brandbestryders het die brand in die veld bestry en die brandweerwa het die brand teen die woonbuurt geblus. Die brand is onder beheer gebring binne die rivier en die brandweer het onttrek uit die area. Later die middag, soos die Advertiser berig het, het daar ‘n wind opgesteek en weer die smeulende brand in die Sondagsrivier laat vlamvat. Gevolglik is brandbestryders uitgeroep na Cypress Grove woonbuurt.
Brandbestryders het vanaf laatmiddag teen die brand baklei en in die oggendure van 21 Februarie is die brand onder beheer gebring. Herandien vertel dat DBNPM hulp vanaf Jansenville, Nieu-Bethesda en Aberdeen ingeroep het om te help met die brand, omdat dit so vinnig versprei het in Cypress Grove.
“Nie een oomblik was dinge so buite beheer in uMasizakhe of Cypress Grove dat ons dit nie kon beheer nie. Ons word opgelei om te bepaal hoe ‘n vuur gaan reageer. Ons het die middag uMasizakhe se brand heeltemal onder beheer gebring en eers teen laatmiddag, toe die brand weer opgesteek het in die Sondagsrivier, na Cypress Grove beweeg. Daar was nie weer ‘n brand in uMasizakhe na die brand van die middag uit die Sondagsrivier nie."
Wat die toegegroeide Sondagsrivier betref, het die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit datums bepaal waarvolgens DBNLM in die omgewing voorsorg kan tref vir die voorkoming van brande, deur byvoorbeeld 'n beheerde brand van die Sondagsrivier.
Hierdie datum was van 1 Augustus verlede jaar tot 31 Maart, omdat dit veldbrandseisoen is en voorkomende brande ‘n groter risiko het om buite beheer te raak. Herandien is van voorneme om die nodige departement te kontak om die uitroei van plante in die Sondagsrivier te verseker, om soortgelyke situasies te vermy.
Herandien bedank die publiek en inwoners van uMasizakhe en Cypress Grove vir hulle hulp tydens die bestryding van die brand in die Sondagsrivier. “Dit was wonderlik om te sien dat ‘n gemeenskap so kan staamstaan.”
Lees die vorige berig deur op die skakel hieronder te klik:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’