CRADOCK NUUS - Op Donderdag 3 April het die provinsiale sekretaris van die United Democratic Movement (UDM) in die Oos-Kaap, Bulelani Bobotyane, 'n verklaring uitgereik oor Cwecwe, 'n sewejarige kind van Matatiele, wat na bewering verkrag is terwyl sy by Bergview College was.
"Dit is uiters kommerwekkend dat, ondanks mediese bevestiging van die aanranding, geen arrestasies gemaak is nie," lui die verklaring.
"Cwecwe en haar familie word ondersteun gedurende hierdie traumatiese tyd. Bergview College is as eerste stap gederegistreer.
Hier word 'n dieper krisis weerspieël, en Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, moet veiligheidsmaatreëls in skole versterk.
Die kwesbaarstes in ons samelewing ly weens nalatigheid en gebrek aan aanspreeklikheid, en geregtigheid moet seëvier."
Bobotyane het die Oos-Kaapse regering versoek om arrestasies te bespoedig.
Optogte
Op 3 April is vreedsame optogte in Graaff-Reinet, en Cradock (Nxuba) gehou vir Cwecwe.
In Cradock is hierdie optog gelei deur die uitvoerende burgemeester, Noncedo Zonke.
Gemeenskapslede het om 10:00 by die stadsaal bymekaargekom vanwaar die optog na die departement van onderwys beweeg het om 'n memorandum aan die departement te oorhandig.
Die optog het toe na die landdroshof beweeg, waar 'n petisie by die regter ingedien is waarin geregtigheid gevra word.
Toegewyde polisieondersoek
Die minister van polisie, Senzo Mchunu, het Vrydag 4 April gesê omdat die ondersoek 'n minderjarige behels, is dit kompleks.
Drie mense van belang, wat nie verdagtes is nie, is geïdentifiseer.
Mchunu het gesê die voorval het in Oktober verlede jaar plaasgevind.
Na mediese ondersoeke en 'n konsultasie met 'n maatskaplike werker, is 'n klag op 16 Oktober gelê.
"Die staatsaanklaer het [egter] in November verlede jaar geweier om te vervolg, met onvoldoende bewyse as rede," het hy gesê.
"DNS-toetse is op die slagoffer gedoen en geen vreemde DNS is gevind nie."
Slegs een toegewyde beampte werk nou aan die saak en die korrekte prosedure word gevolg.
"'n Deeglike ondersoek is aan die gang. Daar word met alle rolspelers gekonsulteer en elke aspek van hierdie saak word noukeurig en omvattend ondersoek," het Mchunu gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’