HOFMEYR NUUS - Werkloosheid is aan die orde van die dag in die Hofmeyr-gemeenskap en juis daarom het die Hofmeyr Hugs of Hope-raad, ná deeglike oorlegpleging met verskeie instansies wat betrokke is by bejaardesorg, besluit om 'n intensiewe tuisversorgingskursus aan te bied.
Die raad sê verblyfkoste in aftreeoorde maak dit vir sommige bejaardes onmoontlik om daarheen te verhuis. Daar is ook talle siekes en bejaardes wat geriefliker in hul eie tuiste voel.
Tuisversorgingsdienste sal op 'n uurlikse basis teen 'n uurlikse tarief beskikbaar wees asook op 'n voltydse basis met permanente inwoning by 'n persoon wat versorging benodig.
Die opleiding word deur suster Cathy Koeberg-Anderson en Audrey Tobias, albei van Steynsburg, aangebied. Beide hierdie vroue is goed onderlê in verpleging en tuisversorging.
Suster Cathy is nou semi-afgetree en woon in Steynsburg ná 'n loopbaan van 50 jaar. Sy het gekwalifiseer as verpleegsuster, met 'n diploma in verpleegkunde aan die Nieu Somerset-hospitaal in Groenpunt, met 'n addisionele diploma in ortopediese verpleegkunde, sowel as 'n diploma in gemeenskapsgesondheid aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU).
Sy het in 2014 by die Marais Steyn tehuis vir bejaardes aangesluit, waar sy steeds uithelp. Sy was ook 'n kort tydjie as mobiele klinieksuster in Rietbron werksaam.
Audrey het 'n sertifikaat in tuisversorging asook 'n spesiale sertifikaat in die versorging van Alzheimer-pasiënte verwerf. Sy het by Huis Lettie Theron en die Keith Brooke Alzheimer-sorgsentrum haar opleiding ontvang en het reeds 26 jaar praktiese ervaring in tuisversorging.
Altesaam agt studente het geregistreer vir opleiding wat reeds op Hofmeyr begin het.
Opleiding word gratis aangebied, maar studente is vir hul eie verblyf en etes verantwoordelik. Elkeen moet ook voorsiening maak vir ten minste twee plaaslike pasiënte waar hulle hul praktiese ervaring sal moet opdoen.
Die uitslag van skriftelike en praktiese eksamens wat afgelê word, moet voldoen aan SETA-akkreditasie.
Van links: Audrey Tobias (aanbieder in tuisversorging), Katrina Olifant, Cathy Koeberg-Anderson (aanbieder in tuisverpleging), Fikelwa Nqiqhi, Ella Kleinveld, Dina Booysen en Jessica Horn. Afwesig: Belinda du Plooy. Foto: Desiré Krauspe-Schofield
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'