MOLTENO NUUS - Die Moirae-kunsskool in Molteno bied nou op gereelde basis opleidingsessies op Saterdae aan.
"Elkeen wat 'n kursus kom bywoon, is self verstom deur hul eie kreatiwiteit en dit is ook baie goeie terapie, veral in die tye waarin ons leef," sê Irma Davel, hoof van dié kunsskool.
Sy kan agt tot tien kunstenaars per werksessie akkommodeer en 'n groot verskeidenheid kunsvorme word prakties deur haar gedemonstreer. Elke deelnemer kry ook vooraf 'n lys met benodigdhede wat saamgebring moet word en watter voorbereiding hulle voor die werksessie aan hul artikels moet doen.
Talle kursusse word aangebied. Die maak van proteas met “scrapbooking” papier, hoe om melkkanne te verfraai, die versiering van ou tasse, macramé, Polymer-kleiwerk, versiering van ou meubelstukke, en selfs koekversierklasse vorm deel van die opleiding.
Belangstellendes word op 'n groepie op sosiale media ingelig rondom die datums van die verskillende opleidingsessies en registreer dan daarvoor. Dit is dus nie nodig dat elke kunstenaar elke kursus bywoon nie, want kostes word per kursus bereken.
Irma het ‘n groot voorraad kunsmateriaal en het ook wye insig in talle kunsvorme. Sy is ook voorwaar 'n inspirasie vir elke voornemende kunstenaar wat soms twyfel aan hul eie kreatiwiteit en skeppingsvermoë.
Belangstellendes kan Irma Davel op sosiale media of vir Teresa Opperman kontak vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Molteno, Karoo nuus'