GRAAFF-REINET NUUS - Jare se verwaarlosing, swak bestuur, kaderontplooiing, nepotisme en korrupsie, veral onder die ANC, het talle munisipaliteite landwyd in duie laat stort. Sommige is bankrot. Leeggesteel.
Die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit (DBNLM ) in Graaff-Reinet is beslis nie op die lys van bes presterende munisipaliteite in SA nie. Trouens, hy is 'n onderpresteerder en huiwer op die rand van bankrotskap.
Kyk net na die groeiende getal slaggate in Graaff-Reinet se strate met so hier en daar lappies teer om hulle aanmekaar te hou.
Maar, waarskynlik die skokkendste voorbeeld van wanbestuur by die DBNLM is hul versuim om werknemers se pensioenbydraes aan die relevante pensioenfonds oor te betaal.
Miljoene is hier ter sprake. Teen September vanjaar was daar sowat R16 miljoen nog uitstaande wat oorbetaal moes word. Dis nie growwe nalatigheid nie, dis krimineel.
Die nuwe DA-burgemeester, Ewald Loock, wat pas ná sy inhuldiging uitgevra is, sê Operasie Regruk lê nou vir die DBNLM voor. "Hier wag groot werk voor in die pad wat baie opofferings gaan verg."
Loock sê hy besef dis nie 'n maklike pad wat die nuwe raad en sy werknemers moet stap nie. "Dit gaan 'n grootse poging verg om die sukkelende munisipaliteit weer op gesonde bene te kry. En dit gaan beslis nie oornag gebeur nie. Moenie wonderwerke verwag nie.
"Die goeie nuus is dat daar reeds 'n bloudruk vir doeltreffende plaaslike bestuur bestaan. Kyk net na sekere munisipaliteite in die Wes-Kaap wat van meet af aan besef het die vlak van vaardighede hou positief verband met die gehalte van dienslewering - en dis hoekom dié provinsie kop en skouers uitstaan bo die ander provinsies as dit kom by die hoë gehalte van doeltreffende plaaslike regering.
Loock sê boaan sy lys van eienskappe wat nie onderhandelbaar is nie, is etiek, gevolg deur gesonde finansiële bestuur en tegniese vaardighede vir die instandhouding en uitbreiding van infrastruktuur. As een van hulle ontbreek, gaan dié skip sink."
Die ouditeur-generaal lewer jaarlikse skokkende bevindings oor die gebrek aan enige ordentlike bestuur by die grootste gros munisipaliteite. Heelwat daarvan kan aan kaderontplooiing en nepotisme toegeskryf word.
Loock sê die personeelkorps van die DBNLM sal produktiwiteit moet verhoog sodat dienslewering verbeter kan word. Daar is reeds 'n beleidsdokument, Consequence Management."
Hierdie beleidsdokument moet gebruik word sodat, waar personeel versuim om hul werk volgens hul werkbeskrywing te doen, daar gevolge vir diegene is. "Dit is ook belangrik dat die personeel wat aangestel is, beskik oor die nodige kwalifikasies wat benodig word om doeltreffende uitsette te lewer."
"Dit het hoog tyd geword dat die stelselmatige agteruitgang van dienslewering op munisipale vlak hok geslaan moet word. Die tyd van onbeplande daaglikse roetines en onproduktiwiteit moet nou stop gesit word. Munisipale amptenare moet besef hul salarisse is afhanklik van belastingbetalers en gebruikers van munisipale dienste.
Slaggate, rioleringstelsels wat nie werk nie, swak watervoorsiening as gevolg van gebrekkige instandhouding, munisipale rekeninge wat óf verkeerd is óf nie afgelewer word nie en ook onbeheerbare vullisstorting en vullishope is totaal onaanvaarbaar."
In dieselfde asem reken Loock ook dat inwoners ook hul kant moet bring om dorpe skoon en ordelik te hou.
"Die skuld vir al ons probleme kan nie net voor die deur van die munisipaliteit gelê word nie. Inwoners kan gerus hul hande in eie boesem steek, ophou om vullis onwettig te stort en saamstaan om ons dorpe en omgewings skoon en netjies te hou. Dit kos nie veel nie."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'