GRAAFF-REINET NUUS - Die Open Hearts-dagsorg-sentrum het op 1 Maart sy eerste bestaansjaar gevier.
Open Hearts is gebaseer by die Verenigde Gereformeerde Kerk in Kroonvale en neem kinders vanaf drie maande tot en met skoolgaande ouderdom in.
Dit is op die been gebring nadat die kerk die behoefte van ouers, veral moeders wat ná hul kraamverlof moes teruggaan werk toe, raakgesien het.
Die groei in getalle dui daarop dat die behoefte aan hierdie tuiste, wat bedags deur die kerk aangebied word, duidelik baie groot is.
Op 1 Maart 2021 is daar sowat 20 kinders by die Open Heart-dagsorgsentrum ingeskryf en vandag, 'n jaar later, is daar 70 kinders met 'n waglys van nog 10 kinders.
Volgens ds. Petrus Gysman, leraar van die Verenigde Gereformeerde Kerk, is die vroeë ontwikkeling van kinders 'n belangrike faset van die kerk se barmhartigheidsrol en dit was dus ook 'n belangrike motivering vir die stigting van die dagsorg.
Liezelle Gysman is die hoof van die dagsorgsentrum saam met Junita Job en Alice Meyer. Hulle word bygestaan deur twee vrywilligers, Selerine Ligman en Johneve Daniels, 'n student wat haar prakties doen in vroeë kinderontwikkeling, terwyl Shernette van Rooyen sorg dat die kinders daagliks 'n maaltyd kry.
Open Hearts-dagsorgsentrum is 'n program van die Open Hearts Foundation, 'n nie-winsgewende organisasie, wat ook 'n sopkombuis het waar mense weekliks 'n maaltyd ontvang.
Die organisasie kry geen finansiering nie en vra gewillige donateurs om skenkings te maak vir speelapparaat buite, asook boekies en kryte. Skenkers kan ook kosprodukte vir die sopkombuis skenk.
Foto: Chriszanne Janse van Vuuren
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'