OOS-KAAP NUUS - ’n Groot voorreg waarvoor daar baie hard gewerk is, helder ’n jong tennisspeler van Cradock se wintervakansie op. Nicolaas van der Walt, 'n leerling by Cradock Laerskool, is een van drie Oos-Kapenaars wat as lede van die SA Skole-tennisspan 'n Europese toer meemaak.
Volgens Jakolette Thiart, eienaar en afrigter by Thiart Tennis Academy en 'n tenniskoördineerder by Oos-Kaapse Junior Skole, het Nicolaas op 26 Junie saam met twee leerders van Pearson Hoërskool in Gqeberha, Tyler Stanham en Erin Dold Chapman, na Europa vertrek.
Hul program is volgeprop met daaglikse aktiwiteite, wat twee besoeke aan Wimbledon insluit.
Op Vrydag en Saterdag, 27 en 28 Junie, het die span by verskillende venues tenniswedstryde gespeel.
Sondag het hulle die beroemde "changing of the guards" by Buckingham-paleis gaan kyk, waarna hulle by die tou ingeval het om toegang tot Wimbledon te kry.
Vir hulle het die lang wag in 'n kamp-ervaring uitgeloop, want hulle moes in tente oornag om hul plek in die ry te behou tot hulle Maandag 30 Junie kon ingaan.
Dinsdag 1 Julie was die natuurhistoriese museum in Londen aan die beurt, gevolg deur 'n bootvaart op die Teems.
Woensdag 2 Julie is hulle weer Wimbledon toe, en Donderdag was 'n besoek aan Windsorkasteel op hul program.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’