KAROO NUUS - Die oorgrote meerderheid (85,8%) van vullisterreine in die Oos-Kaap het AfriForum se landswye oudit gedruip.
Die jaarlikse oudit bepaal of vullisterreine aan die nodige omgewings-, gesondheids- en veiligheidsvereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen.
Die situasie in die Oos-Kaap is soortgelyk aan die res van die land, aangesien net twee van die 10 vullisterreine wat in die provinsie geoudit is aan die minimum (80%) wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen.
Hoewel vullisterreine in Graaff-Reinet en omliggende areas nie besoek is nie, het die vullisterrein in Cradock aan 90% van die ouditvereistes voldoen, terwyl ’n vullisterrein in Oos-Londen, wat sonder ’n permit bedryf word, aan 84% van die ouditvereistes voldoen het.
Deon de Jager, AfriForum se hoof van gemeenskapstrukture vir die Suidstreek, sê hoewel twee vullisterreine uitstekend gevaar het, kon die res nie die mas opkom nie.
"Twee vullisterreine kon selfs net aan 2% van die ouditvereistes voldoen. Dit is ’n groot bron van kommer aangesien die betrokke munisipale amptenare nie deur die provinsiale of nasionale regering tot verantwoording geroep word nie.”
Die situasie in die provinsie kan toegeskryf word aan die munisipaliteite se ernstige tekortkominge met betrekking tot hul stelsels vir afvalbestuur en die personeel wat hiervoor verantwoordelik is.
Kleiner munisipaliteite gaan veral gebuk onder wanbestuur in dié area. Dit blyk egter dat geen daadwerklike stappe gedoen word om die tekortkominge aan te spreek nie.
“In kleiner dorpe, in die Oos-Kaap veral, bly dit die inwoners se eie verantwoordelikheid om vullisterreine te rehabiliteer, te bestuur en herwinning toe te pas. Hierdie proses is nie altyd koste-effektief nie, want om tonnemaat papier, bottels of plastiek te laat wegry na herwinningsstasies wat dikwels ver van die oorsprong geleë is, is nie ‘n ekonomiese besluit om te neem nie.
"Die grootste kopseer in die verafgeleë platteland is plastieksakkies, weggooibare babadoeke en sanitêre ware wat nie vernietigbaar is nie,” sê ‘n Oos-Kaapse wat daagliks die rommel op ‘n klein plattelandse dorpie probeer bestuur.
AfriForum beplan reeds ’n vergadering met dr. Dion George, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO), om ’n formele ondersoek teen die Oos-Kaap se nie-nakomende munisipaliteite te versoek.
In een van die kleinste plattelandse dorpies in die Oos-Kaap, Hofmeyr, wat ressorteer onder die oneffektiewe Enoch Mgijima-munisipaliteit, het ‘n plaaslike boer twee weke gelede, op eie koste, die stortingsterrein vergroot sodat daar op 'n effektiewe wyse van onherwinbare gemors ontslae geraak kan word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’