GRAAFF-REINET NUUS - "Die Oos-Kaap sit midde 'n misdaad-krisis, wat die dringende behoefte aan ingryping beklemtoon. Wetstoepassings-agentskappe moet hul pogings in die bekamping van geweldsmisdaad dringend opskerp."
Talle inbrake aangemeld
Misdaad vier hoogty, oral, maar veral in die Oos-Kaap waar werkloosheid baie erg is. In Hofmeyr, 'n klein dorpie, is daar binne net een week talle inbrake aangemeld. By een inbraak is deure verwyder en reeds verkwansel vir kos.
By 'n volgende inbraak is die yskas en vrieskas gestroop en by 'n derde is 'n bakkery beroof. Maar, in groter sentra is die aanmeldings by polisiestasies ook dikwels moorde. Die 16dae van aktivisme beloof geen verandering in die huidige tendens nie.
Oos-Kaap is moordsentra
Volgens LP Yusuf Cassim, DA se skadu-minister vir gemeenskaps-veiligheid, is die Oos-Kaap die moordsentra van die land.
Cassim het op 25 November verwys na talle moorde wat oor die afgelope maand aangemeld is.
"Inwoners van die Oos-Kaap staan die grootste kans op 'n gewelddadige dood."
Die jongste misdaadstatistiek vir Julie tot September, bevestig dat die Oos-Kaap die provinsie met die meeste moorde is.
1 315 moorde
Die bloedbad wat in die provinsie ervaar word, skets 'n grusame prentjie. Altesaam 1 315 moorde is gedurende die drie maande aangemeld, 19,8 per 100 000 mense.
Sewe Oos-Kaapse polisiekantore is onder die top-30-stasies vir moord in die land. Daar was 1 843 seksuele misdrywe gedurende die drie maande en die Oos-Kaap het die tweede hoogste voorkoms van verkragting in die land, 22,7 per 100 000 mense wat geraak is.
Geen vrees vir strafregstelsel
In Oktober is vyf lede van 'n enkele gesin doodgeskiet in 'n skietery in Bityi naby Mthatha en in die dorp Mqhekezweni, is streekhoofman Nogcinile Mtirara van die AbaThembu-koninklike familie koelbloedig tereggestel.
Vyf graad 12-leerlinge van Jongintaba Senior Sekondêr is in hul eie koshuis seksueel aangerand.
In September is 18 lewens verloor in twee massakietvoorvalle in Ngobozana Village, Lusikisiki.
"Die situasie is onhoudbaar, met massamoorde en massaverkragtings wat gepleeg word sonder vrees vir die strafregstelsel," sê Cassim.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’