ABERDEEN NUUS - In haar eie gr. 6-klas, sê Cecilia Pienaar, is die meeste kinders se wiskundevlakke gelykstaande aan gr. R tot gr. 2.
Baie van hulle kan nie hul eie name skryf nie en vul vraestelle met onleesbare simbole in.
Petro Marx, sameroeper van opvoeding en kultuur, het Pienaar as gasspreker voorgestel tydens 'n VLV-vergadering op 11 Junie in Aberdeen.
"'n Goeie onderwyser is soos 'n kers - brand haarself uit om lig vir 'n kind te gee," het Petro gesê toe sy Cecilia aan die vroue voorstel.
Dié toegewyde wiskunde-onderwyseres van Kamdebo Primêr in Lotusville, Aberdeen, het al talle leerders in die gemeenskap gehelp om dié gevreesde vak te bemeester.
Maar agter haar liefde vir onderrig lê 'n ontstellende werklikheid oor die onderwyskrisis in Suid-Afrika.
Sy skets 'n duidelike prentjie van hoe die onderwysstelsel ons land se kinders faal. In 2024 het Suid-Afrika heel laaste geëindig in die Internasionale Geletterheidsdag-opname, en die statistieke was skokkend:
80% van gr. 4-leerders verstaan nie wat hulle lees nie.
Slegs 16,7% van gr. 4-leerders bemeester basiese syfervaardighede.
Met groot klasse van sowat 50 kinders en beperkte leerhulpbronne by haar skool, is dit 'n uitdaging om daagliks sinvolle onderrig te gee.
Die skoolgebou self is kommerwekkend vervalle en gevaarlik.
Al word hierdie probleme elke jaar aangemeld by die owerhede, gebeur daar niks nie.
Die leerders bring nie net akademiese uitdagings saam nie - hulle dra swaar sosiale laste. Dwelm- en alkoholmisbruik is algemeen.
Party kinders wys tekens van fetale alkoholsindroom en is nie in staat om normaal te leer nie.
Geweld, boeliegedrag, wapens op die skoolterrein, armoede en verwaarloosde huishoudings is deel van die daaglikse werklikheid.
Sommige kinders moet as ouers optree in hul eie huise.
Ander sien Pienaar as 'n moederfiguur - een wat hulle nie by die huis het nie.
Ten spyte van hierdie uitdagings, sê sy steeds: "Onderwys is my roeping. Ek is Jesus se hande en voete op aarde".
Sy leef vir daardie klein oomblikke van hoop - wanneer 'n kind skielik 'n konsep snap, of haar kom bedank met 'n drukkie of briefie.
Sy lees twee sulke briewe voor - vol liefde, waardering en erkenning vir die verskil wat sy in lewens maak.
Dit is dié oomblikke wat sin gee aan haar roeping.
Cecilia sluit haar praatjie af met die bekende storie van die seuntjie wat seesterre teruggooi in die see.
Wanneer iemand vra waarom hy moeite doen - hy kan tog nie almal red nie - antwoord die seuntjie: "Dalk het dit 'n verskil gemaak in net daardie een se lewe".
Dit is hierdie filosofie wat Cecilia dryf. Al is die groter prentjie oorweldigend, is elke leerder wat sy bereik, vir haar 'n seester wat gered word.
Die Graaff-Reinet Advertiser het met Horatio Hendricks, lid van die Oos-Kaapse wetgewer, en skaduminister van onderwys kontak gemaak.
Terugvoer wat van hom ontvang word, sal gepubliseer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’