CRADOCK NUUS - Die kiesafdelingsleier van die DA in die Oos-Kaapse Middelande, LP Heinrich Muller, eis dringende ingryping om 'n omgewingsramp in Cradock te stop.
Rou riool vloei al vir meer as twee jaar in die Groot Visrivier - die dorp se enigste bron van water.
Die bron van die besoedeling is glo gebrekkige rioolinfrastruktuur by Lingelihle, die Michausdal-pompstasie en 'n dreineringspyp wat oorkook by Cradockpark. Die rivierwater is nie geskik vir menslike gebruik nie en die rioolinvloei hou ernstige gesondheidsrisiko's vir mens en dier in terwyl plaaslike ekosisteme vernietig word.
Blinde oog gedraai
Graaff-Reinet Advertiser het reeds in Julie verlede jaar berig oor die storting van riool in die Groot Visrivier. Op daardie stadium het die voormalige leier van die DA in die streek, Kobus Botha, die gebied besoek en gekla dat rioolstortings in die rivier 'n voortdurende, herhalende probleem is wat baie lewens in gevaar stel. Die Advertiser het ook kontak gemaak met Handri Vorster, DA Raadslid in die Inxuba Yethemba-munisipaliteit. Tim de Jongh en Ruaan Botha van die Groen Skerpioene het bevestig dat die stortings reeds sedert Mei 2022 voorkom en dat die Chris Hani-munisipaliteit beloof het om op te volg.
Muller sê egter daar was geen daadwerklike optrede nie en die probleem is nou erger as ooit.
Maak toetsuitslae bekend
"Hierdie besoedeling bedreig nie net wild nie, maar stel ook Cradock se inwoners in gevaar. Verslae van bakterieë, insluitend E. coli, is veral kommerwekkend, en ons vra vir onmiddellike watertoetse en dat die resultate bekendgemaak word," eis Muller.
Cogta LUR, Zolile Williams is gevra om druk op die munisipaliteit uit te oefen om die gebrekkige infrastruktuur aan te spreek.
Muller sê indien die situasie voortduur en gevaarlike bakterie-vlakke bevestig word, sal die DA regstappe neem. "Ons doen ook 'n beroep op die Groen Skerpioene en die menseregtekommissie om die krisis te ondersoek."
Hierdie afloop na die Visrivier ruik na skoon ontlasting.
'n Nader foto wys dat die stinkende afvloei beslis nie helder fonteinwater is nie.
Inwoners van Lingelihle se beeste word oor naweke en snags ingekamp en hul ontlasting beland in 'n afleivoor wat direk in die Visrivier inloop. Foto: Heinrich Muller
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’