OOS-KAAP-NUUS - Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) veroordeel die wrede moord op een van sy streekhofaanklaers op 31 Julie.
Tracy Brown is voor haar huis in Gqeberha, in die teenwoordigheid van haar lewensmaat en minderjarige kind, deur vier gewapende mans in sluipmoordstyl doodgeskiet.
“Die motief vir Brown se sinnelose moord is steeds onbekend," sê Mthunzi Mhaga, die NVG se nasionale woordvoerder, in ’n mediaverklaring.
“Haar moord is 'n aanval op die oppergesag van die reg en ons onvermoeide pogings om misdadigers aanspreeklik te hou.
Die NVG, tesame met wetstoepassing, sal geen moeite ontsien om te verseker dat die daders van hierdie wrede moord voor die gereg gebring word nie.”
Grondwetlike demokrasie geteiken
Hierdie moord volg op die moord op 'n ander aanklaer, Elona Sombulula van die Engcobo-landdroshof, in April.
Die moord op aanklaers - wat elke dag hul lewens op die spel plaas in die nastrewing van geregtigheid - is diep ontstellend.
“Ons aanklaers neem hul pligte met moed en 'n diep toewyding aan die diens van die mense aan, dikwels met groot persoonlike risiko.
Om diegene te teiken wat hul lewens wy aan die handhawing van die wet, is om die hart van ons grondwetlike demokrasie te tref,” lui die verklaring.
Die NVG sê ook dat hy nie afgeskrik sal word in sy vasberadenheid om geregtigheid vir die mense van ons land te verseker nie.
Meegevoel
“Ons gedagtes en innige meegevoel is met Brown se familie, vriende en kollegas in hierdie hartseer en moeilike tyd,” lui die verklaring.
Talle boodskappe van meelewing word reeds op Brown se sosialemediaprofiel geplaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’