CRADOCK NUUS - Die mediese sorgsentrum, op die hoek van Hospitaal- en Victoriastrate in Cradock, het in Julie vir dr. Francois Barnard van Beaufort-Wes by hul praktyk verwelkom.
Barnard het 'n groot liefde vir die platteland en vir hom is Cradock die versinnebeelding van die skoonheid van die platteland en die Karoo.
Hy verkies die rustigheid enige tyd bo die gewoel van die stad. "My pasiënte moet weet dat ek altyd my beste sal doen om die probleem aan te spreek en om 'n herhaling te verhoed."
Hy glo daaraan om die oorsaak van 'n gesondheidsprobleem aan te spreek, en nie net tydelike pleisters te plak nie.
"Ek het 'n besondere voorliefde om met geriatriese pasiënte te werk, en senior en bejaarde pasiënte se optimale versorging is my eerste prioriteit. Ek vind ook groot vreugde in die verligting van pasiënte se psigiatriese probleme."
Barnard spandeer graag sy vrye tyd in die tuin en geniet die buitelewe en die natuur saam met sy vrou Milandie en hul twee hondekinders.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’