CRADOCK NUUS - Die bestuurspan van Cradock-kankersorg het sy jaarvergadering in Victoria Manor in Cradock gehou.
Marelize Michau en Marlize Coetzee sal om die beurt as voorsitters optree, terwyl Charlotte Laas as ondervoorsitter sal dien.
Rihan Bezuidenhout en sy eggenote, Sorita, sal as sekretariële paar optree. Gerda Marais is weer die tesourier, terwyl Theuns en Susarah van der Nest, en Alida Erasmus as addisionele lede verkies is.
Die bestuur het hierdie jaar ook afskeid geneem van Laura en Neil Adams, wat vir geruime tyd as voorsitterspaar opgetree het. Cradock-kankersorg lewer in Cradock en omliggende areas diens aan kankerlyers.
Hulle het 'n verpleegsuster in diens en sy besoek pasiënte soos nodig.
Cradock-kankersorg verskil van Kansa in die opsig dat Cradock-kankersorg diens lewer op plaaslike vlak, terwyl Kansa as 'n nasionale groep oorhoofs navorsing doen.
Dié instansie wend gedurende die finansiële jaar talle pogings aan om fondse in te samel, hetsy deur lootjie- en kwiltverkope, jaggeleenthede of uitstappies. Hul hoofborg is die plaaslike Visriver-kanomaraton wat jaarlikse 'n stewige finansiële bydrae oplewer.
Elke persoon wat 'n bydrae gemaak het tot die finansies of hulp verleen het aan Cradock-kankersorg is met 'n keurige ontbyt by Victoria Manor bederf. Roy Copeman, voorsitter van die Visrivier-kanomarathon, het ook tydens die geleentheid die gemeenskap se opregte waardering oorgedra aan Laura en Neil Adams, wat ongeag hul eie gesondheidsprobleme en gevorderde ouderdom, steeds aktief betrokke gebly het by Cradock-kankersorg.
Cradock-kankersorg het onlangs sy jaarvergadering gehou en ook die nuwe bestuurspan aangewys. Van links is Marelize Michau, nuutverkose voorsitter van Cradock-kankersorg, Roy Copeman, voorsitter van Visrivier-kanomaratonklub en hoofborg van Cradock-kankersorg, en Laura Adams, uittredende voorsitter van Cradock-kankersorg.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'