PROVINSIALE NUUS - Na die uitbreek van bek-en-klouseer op 'n melkplaas buite Humansdorp, 130 km van die Wes-Kaapse grens af, is boere in alle provinsies ingelig om waaksaam te wees teen die simptome van die siekte.
Voor die uitbreek, was die siekte beperk tot die noorde van die land. Volgens die nuutste inligting het die siekte nou versprei na vier plase in die Humansdorp-omgewing waarvan drie van die plase aan een eienaar behoort.
Die huidige uitbreek volgens beskikbare inligting, is slegs in beeste, alhoewel alle gesplete hoefdiere (beeste, skape, bokke en varke asook wilde diere met gesplete hoewe, onder andere buffels) vatbaar is vir die siekte.
Volgens die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, is plase in 'n 10 km-radius om die betrokke plase in kwarantyn geplaas. Die manier hoe die bek-en-klouseer tot in die Oos-Kaap versprei het, word nog ondersoek. Die virus is hoogs aansteeklik en kan deur draer diere of kliniese siek diere en ook deur mense wat met hierdie diere gewerk het, oorgedra word.
Plaaslike boer, John Robertson, het by 'n geleentheid vroeër die maand tydens 'n besoek van dr. Ivan Meyer aan Mosselbaai, opgebring dat dié siekte katastrofiese gevolge sal hê vir die ekonomie van die Wes-Kaap, indien dit hier sal uitbreek. "Verlede jaar is die siekte aangeteken in KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en het vir die eerste keer in die Vrystaat voorgekom. Met die uitbreek in die Oos-Kaap, is ek baie bekommerd dat daar nie genoeg publisiteit gegee word aan die verwoestende gevolge, nie net vir die beesboerdery nie, maar ook die wol- en melkbedryf. Kopers sal weier om produkte aan te koop," het Robertson die vergadering ingelig.
eyer het self sy bekommernis uitgespreek oor die nuutste uitbreek in die Oos-Kaap en die vergadering verseker dat alle trokke wat die Wes-Kaap binnekom, saam met die verkeer afgetrek sal word en dat veeartse by die verskillende weegbrûe geplaas sal word.
Elsenburg.com bied 'n goeie opsomming van die siekte.
Wat is bek-en-klouseer?
- Die virus kom voor in alle liggaams-vloeistowwe, soos speeksel, urine, ontlas-ting, melk en in die lug wat siek diere uitasem.
- Diere kry hierdie siekte wanneer hulle eet of die virus van hierdie liggaamsvloeistowwe inasem.
- Mense kan ook die virus versprei deur besmette klere, skoene, hande en motorbande.
Wat is die tekens?
- Blase en sere in die mond (tandvleis, lippe en tong) is rou en pynlik, wat dit moeilik maak vir die dier om te eet, en veroorsaak dikwels kwyl.
- Blase en sere tussen die tone en waar die hoewe by die vel aansluit, kan veroorsaak dat die diere mank is en nie wil rondloop nie.
- Koeie kan sere op hul spene ontwikkel. Dit lei tot 'n skielike daling in melkproduksie.
Waarom is bek-en-klouseer gevrees
- Boere ly finansiële verliese omdat siek diere gewig verloor, nie groei nie en minder melk produseer. Jong kalwers kan vrek.
- Groot bedrae geld word spandeer om die siekte in toom te hou.
- Lande wat nie die siekte het nie, sal nie diere, vleis of vleisprodukte van Suid-Afrika koop wanneer die siekte versprei nie.
Wat om te doen in vermeende gevalle
- Indien enige tekens van bek-en-klouseer waargeneem word, skakel dadelik jou naaste staatsveearts.
- Bek-en-klouseer-siekte of vermeende besmette diere word verbied om in 'n abattoir opgeneem of geslag te word.
- Indien die sieke by 'n nadoodse ondersoek vermoed word, moet die karkas en ingewande hanteer word soos deur die staatsveearts voorgeskryf.
- Die vertrek en al die toerusting moet met asynsuur ontsmet word om die verspreiding van die virus in die abattoir te voorkom.
Hoe om bek-en-klouseer aan te meld
- Vir meer inligting en om vermoedelike gevalle van bek-en-klouseer aan te meld, kontak jou naaste Wes-Kaapse departement van landbou staatsveeartskantoor.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’