HOFMEYR NUUS - Wilson Geza (58), van Eluxolweni in Hofmeyr, was vir baie jare 'n assistent vir jagters.
"Ek kan baie vinnig afslag, selfs 'n bees maak my nie bang nie," sê Wilson. Hy het geleer om velle af te slag, en dit dan te behandel sodat dit weer benut kon word.
"Vir baie jare het die vellekopers al die goeie velle op die plase kom koop, en ek moes maar met die uitskotvelle tevrede wees. Nou nog, kry ek gereeld net die uitskotvelle wat die vellekopers nie wil koop nie," sê hy, terwyl hy vrag na vrag van sy gebreide en gelooide velle uit sy huis dra om oor die draad te hang.
"As ek gelukkig is, laai die jagters hulle velle by my af as daar klaar geslag is. Dit is my lewe. Ek brei die velle en dan verkoop ek dit, deur Hugs op die dorp," sê hy met verwysing na Hofmeyr Hugs of Hope wat hom opgespoor het en nou betrokke is by die bemarking van sy velle. Soms kom haal die jagters ook weer die velle wat nog mooi is, en betaal hom vir die looiwerk.
"As die velle gate of skeure in het, wil die mense dit nie koop vir hulle huise nie, maar dan gee ek dit goedkoop weg vir die straatkinders, wat daarop slaap, of dit vir komberse gebruik. Maar ek maak dit ook eers vir hulle lekker sag, want ek is trots op my werk."
Wilson Geza se draadheining voor sy huis, en sy klein sakmessie, is sy enigste hulpmiddels.
Dit neem Wilson sowat twee weke om een vel sag te kry, en hy het geen masjiene wat hom help nie.
Sy draadheining voor sy huis, en sy klein sakmessie, is sy enigste hulpmiddels. Hy maak egter ook gebruik van die telefoonpaal voor sy huis, beduie hy, want die velle vou lekker daarom en dit raak lekker sag as mens dit lank genoeg om die paal werk.
Wilson is nog nie geregtig op staatspensioen nie, en hierdie werk is sy enigste inkomste. Hy is ook 'n selfonderhoudende tuinier, en spog met 'n tuin vol pampoene, wortels, beet, uie, aartappels en skorsies.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'