GRAAFF-REINET NUUS — Die Nuwekerk in Graaff-Reinet is in 1927 vanaf die Moedergemeente (Grootkerk) afgestig.
Die redes waarom hierdie afstigting plaasgevind het kan tot vandag toe nie met sekerheid bevestig word nie. Nie te min het die lidmate vir 90 jaar die verskille lewendig gehou, tog glad nie oor dieselfde redes as 1927 nie.
Oor die jare was daar vele pogings om die twee NG-gemeentes te herenig, die voorstel is egter met gemengde gevoelens ontvang. Die laaste aantal jare het dit egter al hoe duideliker geword dat die meerderheid lidmate van dié twee gemeentes die wil tot hereniging uitgespreek het.
Gedurende 2013/14 het Ds Attie Beetge die Nuwekerk bedien. Met sy vertrek het hy ‘n God geïnspireerde Belydenis, met die tema, ‘n Nuwe Seisoen, waar God regeer in Graaff-Reinet, geskryf.
Die Kerkraad het dit as belydenis van die gemeente aanvaar en deel dit toe met die Grootkerk. In Oktober 2015 ontmoet lede van die Nuwekerk en Grootkerk se kerkrade, reik ‘n hand van verering uit en versoek hulle toe dat die moontlikheid van hereniging ondersoek moet word.
Gedurende die tydperk 2015 tot 2017 het vele vergaderings gevolg. Met tye wou daar moed opgegee word, maar God se wil het duidelik deurgedring en daarom moes die proses deurgevoer word.
Na 'n geskiedenis van 90 jaar kan daar nou met vreugde en vrede getuig word dat ? pragtige ooreenkoms tussen die twee kerkrade opgestel is.
Die afgestigte gemeente, Nuwekerk, sal terug stig na die Moedergemeente wat dan voortaan as die NG Kerk Graaff-Reinet bekend sal staan.
Op Sondag, 26 November, het die Nuwekerk haar afsluitingsdiens in die Nuwekerk gebou gehad waar al die beskikbare oud-leraars genooi was om dit saam te vier.
Dit was ? wonderlike geleentheid. Ds Louis Venter het die prediking met ‘n treffende boodskap uit Genesis 12 : 1-3 waargeneem.
Ds Attie Beetge het die Nagmaal ingestel waarna almal gesellig, net soos die Nuwekerk kan, in die saal feesgevier het.
Rondom kreunende tafels het ou vriende lekker saam gekuier, staaltjies uit die verlede gedeel, saam gelag en onthou, die trane het ook baie vlak gelê - dit was moeilik om te groet.
Nuwekerk het oor die afgelope 90 jaar ook geseënde tye beleef, en die lidmate is opgewonde om ook hul bydrae in die nuwe herenigde gemeente te maak. Nuwekerk is tog nie vergete nie - ‘n gedenkblad wat die stories, verhale, gebeure en staaltjies van die Nuwekerk-gemeente en haar mense bevat, word beplan - enige persoon wat ‘n bydrae wil lewer kan dit by die Kerkkantoor inhandig.
Die amptelike hereniging sal met ‘n erediens op 21 Januarie 2018 bevestig word.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'