HOFMEYR NUUS - Nadat die vaardigheidsontwikkelingsinstansie, Hugs of Hope, in Desember 2025 ’n uitdaging aan breiers gestel het om teddiebere vir ’n groot projek te brei, het breiers van dwarsoor die land hul breinaalde en wol opgeneem.
Die aanvanklike versoek is uitgestuur sodat kindertjies wat Kersdag sonder ’n geskenkie sou wakker word, ten minste ’n gebreide teddiebeertjie en lekkergoed kon kry.
Die reakie was so oorweldigend dat Hugs of Hope moes skarrel om ’n volledige breipatroon - en kort daarna ook ’n hekelpatroon - te publiseer.
Die aanvanklike teiken om voor Kersfees ten minste 100 teddiebere uit te deel is bereik - en steeds het die teddiebere ingestroom.
Toe die skole heropen en kindertjies van vier en vyf jaar oud vanaf 06:00 langs die pad moes wag vir die skoolbus, het hulle ook beertjies gekry om hulle geselskap te hou, en daarna het gr. R-leerders by die skole in die omgewing aan die beurt gekom.
Die vreugde op elke gesiggie wanneer hulle daardie beertjie ontvang, was onbeskryflik.
Meer as net kinders baat
Sedert die plasing van die eerste versoek is bykans 300 gebreide beertjies reeds ontvang, en hoewel Hofmeyr nie ’n koerierdiens het nie, word beertjies in omliggende dorpe afgelewer waar goedhartiges dit by die koerierfirmas gaan afhaal en hou totdat ’n geleentheid na Hofmeyr beskikbaar is.
Altesaam 38 vroue van oor Suid-Afrika het al beertjies gebrei. In Jeffreysbaai het die J-Bay Angels selfs ’n besending van 105 op een slag gestuur.
Hierdie besending het ’n verskeidenheid sagte speelgoed ingesluit - ekstra-spesiale beertjies, skoenlappers en poppies.
Vroetelwurms en narre word ook gehekel en gebrei en aan Altzheimer- en demensiepasiënte in tehuise vir bejaardes in die omgewing geskenk
“Nou wat moet ek met ’n beertjie maak,” het ’n gestremde volwassene gereageer op die aanbod van ’n rooi en grys beertjie - maar toe hy die beertjie ontvang, het hy dit dadelik teen sy bors gedruk, gesoen en in sy bed gaan sit.
Dis is oomblikke soos hierdie wat vir Hugs of Hope-lede wys dié projek is nie tevergeefs nie.
Kankerlyers en ernstige siek kinders ontvang ook beertjies, en Hugs of Hope hoop om vir altyd ’n voorraad bere beskikbaar te hê.
“Toe ’n seuntjie nou die dag sy knie hier voor die winkel oopval, was ’n teddiebeertjie darem baie welkom,” vertel een van die vrywilligers by die organisasie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’