JANSENVILLE NUUS - Leoné Mulder, bestuurder by Huis Welverdiend in Jansenville, het vanaf 9 April 'n groep inwoners van die tehuis na Hartenbos vergesel vir 'n heerlike vakansie.
Sy beskryf dit as ’n onvergeetlike gebeurtenis.
"Op Graaff-Reinet het ons lekker biltong en iets te drinke gekoop vir padkosbederf langs die pad. By Aberdeen het ons die mees fantastiese ervaring gehad toe ons vyf vroue se kunswerke van tonele uit die Bybel in die kerksaal gaan besigtig het.
Op pad na Willowmore het ons almal besef hoe groot is die genade van ons Hemelse Vader met die mildelike reën.
Ons het by Oppi-Vlak-padstal gestop vir koffie en 'n eetdingetjie. Vandaar na Willowmore het ons weer "tenke" volgemaak en weer dieselfde "tenke" leeg gemaak by Kapoet padstal. Die watervalle op pad na Uniondale het ons almal heeltemal stom gehad.
Uniondale het ons bekoor met sy eie nostalgie - hier het ons eers uitgevind dat die Outeniquapas oop is, want dit was vir 'n wyle gesluit na die kwaai stormweer - en vir ons was dit maar 'n naelbytervaring. Groot opgewondenheid het geheers toe Hartenbos voor ons oopmaak."
Die groep het op 12 April pootuit teruggekeer na al die aktiwiteite. Daar is op die strand en wandelroetes gestap, baljaar in die verhitte swembad, en daar is gemik en gekorrel op die miniatuur gholfbaan (putt-putt). Hartenbos en die Langeberg Mall is platgeloop.
Die groep het ook die punt by Mosselbaai besoek, en daar is natuurlik elke aand 'n laat aand draairoomys by Steers in Voorbaai geniet.
Met hul terugkeer het die groep die lekkerste ontbyt in die gesellige atmosfeer by Coffee Time in George geniet. By die padstal onder die Outeniquapas is daar gestop vir olywe, en vandaar het hul weereens Kapoet se biltong en koffie gaan geniet.
Die heel laaste stop was op Steytlerville by die Rooi Malva waar hul aan pasteie gesmul het.
"Dit was 'n onvergeetlike ervaring met baie mooi herinneringe vir die toekoms," vertel Mulder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’