CRADOCK NUUS - Die Saalperdgenootskap in Cradock het 'n nuwe inisiatief, Maak drome waar, begin om die drome van 'n groep opkomende ruiters te laat realiseer.
Verlede week is die eerste droom bewaarheid toe Desiré Wilken, 'n gr 5 leerder van Laerskool Cradock, 'n perd ontvang het.
Elsa Featherstone het 'n perd, Show me the King, aan Desiré gegee om mee te oefen en deel te neem. Sy moet die perd self versorg.
Kevin Eltringham het 'n halter en oefentoom bygedra, terwyl Martin Pienaar 'n voltoom geskenk het. Desiré het ook 'n stang en trense by Hein Nieuwoudt gekry, terwyl Hannelie van Niekerk die juwele en nommerpenne gegee het wat sy gaan nodig kry vir skoue. Sy het 'n rypak ontvang van Sanna Botha en rystewels en dasse van Veliska Lombaard. Koekie de Villiers het 'n saal, perdekombers, ryhoed en eetgoed geskenk vir die oorhandigingsgeleentheid by die Somerser-Oos Landbougenootskap se skoustalle.
Haar afrigters, Anika Botha en Yvonne Botha, haar ouers, Marlette Kleinhans en Jaco Delport, maats en ander vertoners van Somerset-Oos Landbouskou was by die oorhandiging.
"Ons harte loop oor van dankbaarheid," het haar ouers gesê. "Ons glo dat Desiré en The King 'n pragtige nuwe hoofstuk saam begin."
"Ek kan nog steeds nie glo dat ek dié groot geskenke ontvang het nie," het Desiré oorstelp gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’