Video
HOFMEYR NUUS EN VIDEO - Berigte van reën vanuit ñ wye area rondom Hofmeyr het hierdie week bygedra om gemoedere te lig.
"Op ons plaas, Dagbreek, tussen Hofmeyr en Tarkastad het ons 79 mm aangeteken die afgelope week, " deel Kobus Burger mee.
Vanuit die Moltenodistrik deel Seppie Vermaak van Suurfontein mee dat hy 42 mm uit die reënmeter kom uitgooi, terwyl daar op die grens tussen Hofmeyr en Molteno 40 mm aangeteken is.
Die Bamboesberge het in ñ lusoord verander met glashelder bergstroompies wat afsyfer teen die ysterklipwande en borrelende poeletjies maak waar dit tussen die sandsteenklippies opdam.
Water is oral hoorbaar en sigbaar, want in die omgewing het die Vlekpoortrivier, wat bo in die Gladdekoppe ontspring, die afgelope jaar nog nooit teruggekeer tot ñ droeë loop nie.
Die Doornkloof, Ruigtekloof en Wilgekloof het laat gistermiddag almal gebruis na sagte reën oor die laaste drie dae. ñ Ware somerlafenis!
"Daar is ñ sagte groen skynsel op die nuutgesaaide teflande en ons hawer staan vet in die saad," deel Roelf Opperman van Amajuba, aan die voet van die Groot Doornhoek- en Klein Doornhoekpasse mee. "Ons doringbome is steeds vol in die blom, en die bome is goeie winterkos vir ons vee."
Rondom Schoombee berig die besproeiingsboere ook sagte, deurdringende reën oor die laaste klompie dae.
VIDEO - Dit reën en almal is dankbaar
Bergwaters word slootwaters, en borrel en bruis tot dit by groter lope uitkom. Die rooi kleur van die water is eie aan die omgewing en is te wyte aan die rooi skalie neerslag wat hier voorkom.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'