GRAAFF-REINET NUUS - Een van Aberdeen se hoofstrate, Andries Pretoriusstraat, ondergaan 'n gedaanteverwisseling: 'n lank verwagte spoedhobbel kry sedert verlede week gestalte.
"Aberdeners probeer al vir jare om die plaaslike owerheid sover te kry om dié lang straat te beveilig teen jaagduiwels met een of meer spoedhobbels. Ons kan nie nog 'n feesseisoen so ingaan nie," sê plaaslike VF+ raadslid, Riaan van Heerden.
Hy sê inwoners en raadslede pleit al vir jare met petisies en vergaderings. ARRPA (Aberdeen Residents and Ratepayers Association) het ook al skrywes gerig en vergaderings met die owerheid gehou.
Met die feesseisoen op hande het Van Heerden, ook die voorsitter van die plaaslike VF+-tak, by die party hulp gevra.
Die resultaat is dat die VF+ in samewerking met die DBNPM, die inisiatief lei. "Dit is noodsaaklik dat die spoedhobbel, soos enige ander verandering aan 'n straat, aan die nodige wetlike vereistes en standaarde voldoen.
"Daarom het ons hande gevat met die plaaslike owerheid en saamgewerk om die straat te beveilig. Ons wil graag ook in Hoopstraat, die ander hoofstraat, dieselfde doen."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’