GRAAFF-REINET NUUS — 'n Ervare en passievolle musikus van Graaff-Reinet wil 'n uitgesoekte kinderkoor in Graaff-Reinet begin.
Ilse Burger is die stigter en koorleier van dié koor, die 'Graaff-Reinet Angels', wat eersdaags op die been gebring gaan word.
Dié koor - die eerste van sy soort in die gebied - is die hartewens van Burger, wat sinoniem is met musiek in die dorp.
"Ek wil jongmense tussen ongeveer 9 en 16 jaar uit al die woonbuurte van Graaff-Reinet bymekaar bring en 'n Graaff-Reinet kinderkoor begin, dalk selfs 'n junior en 'n senior koor," sê Burger, wat tans musiekonderrig aan kinders van verskeie skole by haar privaat musiekskool gee.
"Die doel met so 'n koor is om talentvolle sangers die geleentheid te bied om hul musiek-talent te ontwikkel en hulle so te bemagtig vir 'n beter toekoms."
Skole van Graaff-Reinet word almal genooi om deel te wees van die proses om leerders te identifiseer en te help registreer vir oudisies.
Die oudisies sal eersdaags geskied.
Burger sal self na die individue se stemplasing, musikaliteit en intonasie luister en die finale stemme kies waaruit die koor sal bestaan.
Volgens Burger hoef die leerders wat registreer om aan oudisies deel te neem nie musiek te kan lees nie, want hulle sal deur blootstelling aan koormusiek musieknotasie stelselmatig leer.
Die koor sal weekliks oefen.
"Elke koorlid se suksesvolle deelname sal van ouers se toewyding afhang, siende dat die ouers moet sorg dat lede die oefening bywoon," sê Burger.
Diegene wat belangstel om vir 'n oudisie te kom, kan Ilse Burger by 072 385 6613 of 072 563 2893 of ilseburgermusicschool@gmail.com kontak vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'