OOS-KAAP NUUS - Die Oos-Kaapse regering sal moet rekenskap gee van die beweerde wanbestuur van openbare fondse by die "Musiek in die Sneeu-fees" in Hogsback oor die naweek van 18, 19 en 20 Julie.
Kunstenaars en deelnemers was nie net teleurgesteld nie, maar het geld verloor weens 'n reeks mislukkings wat na bewering aan die geleentheidsorganiseerder se onvermoë om basiese verpligtinge na te kom, toegeskryf kan word.
'n Volledige ondersoek sal geloods word na die gebruik van openbare fondse vir hierdie geleentheid.
Vertragings en ontwrigtings
Leander Kruger, skadu-LUR vir Sport, Ontspanning, Kuns en Kultuur, het op 21 Julie gesê dat hierdie fees, wat gedeeltelik deur die provinsiale Departement van Sport, Ontspanning, Kuns en Kultuur (DSRAC) befonds is, bemark was as 'n hupstoot vir plaaslike toerisme en 'n viering van Oos-Kaapse talent.
In plaas daarvan het dit 'n gevallestudie geword van swak beplanning en gebroke beloftes. Kaartjiehouers wat tot R1 000 vir die volle naweek betaal het, het vertragings, afwesige kunstenaars en tegniese ontwrigtings beleef wat hulle laat wonder het of die geleentheid hoegenaamd moes voortgegaan het.
Volgens kunstenaars het die hoofgeleentheid op Saterdag 'n volle twee uur laat begin en die gehoor moes wag terwyl klanktoerusting opgestel is.
Sommige kunstenaars, insluitend hoofkunstenaars soos Nathi Mankayi en Simmy, het na bewering onttrek nadat die organiseerders nie hul kontrakte nagekom het nie.
Wanbesteding en borge
Kommer heers veral oor die rol van medeborge soos die Raymond Mhlaba Plaaslike Munisipaliteit, die Oos-Kaapse Ontwikkelingskorporasie en die Oos-Kaapse Dobbelraad, almal entiteite wat staatmaak op openbare hulpbronne om hul mandate te vervul.
Sosialemedia-plasings van gefrustreerde musikante dui daarop dat wanbetaling en tegniese probleme wyd voorgekom het - 'n ondermyning van die geleentheid se doel van kunstenaarontwikkeling en gehoorbetrokkenheid ondermyn.
Nonkqubela Pieters, wat toesig hou oor die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsake en Toerisme, is ingelig rondom die wanbesteding van fondse en die swak organisasie van die geleentheid wat wyd adverteer en ondersteun is, en die Oos-Kaapse Ontwikkelingskorporasie en die Oos-Kaapse Dobbelraad is ook versoek om vas te stel hoe openbare befondsing gebruik is en of sorgvuldigheidsprosesse gevolg is.
Die Oos-Kaap het 'n ryk kuns- en kultuurerfenis. Geleenthede soos hierdie behoort beide kunstenaars en gemeenskappe op te hef, nie ontnugter te laat nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’