MURRAYSBURG NUUS - Murraysburg se Vrouelandbouvereniging het soos oudergewoonte die matrieks van Hoërskool Murraysburg onlangs trakteer met ’n heerlike program en middagete.
Renée Swanepoel was eerste aan die woord en het met behulp van ‘n tassie met verskillende voorwerpe in ’n praatjie aan die leerlinge gewys op belangrike hulpmiddels vir hul lewensreis.
Volgens Swanepoel het ’n mens lewensvaardighede nodig om ongeskonde en suksesvol anderkant uit te kom.
Theresa Troskie het die kinders elkeen voorsien van ’n boekie met voorbeelde van al die dokumente wat nodig is wanneer jy aansoek doen vir verdere studie of ’n betrekking. Hierdie boekie kan as handige naslaanbron dien. Sy behandel ook die volgende onderwerpe met die leerlinge: riglyne vir die opstel van ’n moderne CV, ’n aansoekbrief, ’n dekbrief; die korrekte kleredrag en optrede tydens ’n onderhoud. Spesiale klem word daarop gelê dat “Jy jou eie handelsmerk” is.
Om hierby aan te sluit, doen Ria Koen, maatskaplike werker, ’n rollespel met die leerlinge. ’n Paneel van vier leerlinge saam met Koen voer ’n onderhoud met twee kandidate wat aansoek gedoen het vir ’n sekretaressepos by die hoërskool. Die rollespel sorg vir baie pret, aangesien die leerlinge se oudskoolhoof ’n kandidaat is wat haar heeltemal onvanpas gedra tydens die onderhoud.
Dit is egter insiggewend om te sien hoedat al die leerlinge die gedissiplineerde, hardwerkende, gekwalifiseerde, goedversorgde aansoeker in die pos “aanstel”.
Theresa Troskie lig die leerlinge in oor opleidingsgeleenthede in die Murraysburg omgewing, soos byvoorbeeld die polisie akademie in Graaff-Reinet.
Die SAPD het onlangs bekend gemaak dat hulle hul nou weer toespits op die werwing van Afrikaanssprekende aansoekers. Vir kinders wat ’n toekoms in die Landbou wil volg, is daar die Grootfontein Landboukollege op Middelburg. Op Graaff-Reinet is ook die South African College for Tourism wat ’n verskeidenheid kursusse vir seuns en dogters aanbied – volle beurse vir studie en verblyf is beskikbaar. Die Bankwese is ook ’n veld wat vir indiensopleiding ondersoek kan word. Die VLV bied hulp aan om leerlinge te help met aansoeke, ensomeer.
Die matrieks van Hoërskool Murraysburg.
Die dag se motiveringspreker en sanger was Edward Daniëls. Hy is self ’n man wat eers in sy dertigerjare die geleentheid gekry het om homself as elektrisiën te bekwaam. Hy is vanjaar in sy derde jaar en van die 37 kandidate wat saam met hom begin het, is daar nou slegs drie oor.
Hy moedig die leerlinge aan om pligsgetrou te wees, hard te werk en nie moed op te gee nie. Hierdie oudwenner van ’n Idols-kompetisie op Carnarvon trek sy kitaar en mikrofoon nader en hou ’n kort konsert vir die leerlinge. Hulle geniet dit so en raak so meegevoer dat hulle spontaan handeklap, opstaan en saamdans!
Elke leerling het toe ‘n Bybel ontvang as geskenk.
'Ons bring jou die nuutste Murraysburg, Karoo nuus'