ABERDEEN NUUS - Yskoue, bewolkte weer het Aberdeen se munisipale personeel op Donderdag 18 Julie nie afgeskrik om hulle 67 Mandela-minute buite te spandeer nie.
Almal wat by die plaaslike kantoor werk - van die waarnemende areabestuurder, Ulalia Minnaar, tot by Yvonne Frazenburg, raadslid van wyk 1 en Riaan Mouply, wykskomiteelid van wyk 1 - het vanjaar gehelp om die munisipale gebou 'n nuwe baadjie te gee.
Die verwaarloosde gebou in die middedorp was vir jare lank 'n seer oog. "Ons het besluit om vanjaar op Mandeladag 'n boodskap van hoop en trots aan Aberdeen se gemeenskap uit te dra.
'n Mens kan mos nie met trots werk in 'n plek wat nie skoon en netjies is nie. Daarom dat ons stil-stil 'n plan gemaak het om die plek waar ons die gemeenskap bedien, self skoon en netjies te maak," vertel Frazenburg.
Die 67-minute is spandeer in die gees van "vele hande maak ligte werk".
Die binnekant van die gebou is behoorlik van hoek tot kant geskrop, gestofsuig en gepoets, terwyl amptenare ook die buitekant van die gebou aangedurf het. By afloop van die 67 minute het die personeel die res van die dag asook die volgende dag, tyd verdeel tussen gewone daaglikse kantoorpligte en voortsetting van die opknappingsoperasie.
Mouply het meer as genoeg gedoen en min gepraat. "Ons wil met trots klaarmaak wat ons begin het."
Soos die verfwerk gevorder het, het Minnaar se innemende glimlag Vrydag net nog breër geword.
-- "Ek wil baie dankie sê aan ons span omdat ons so goed saamwerk en ek altyd kan staatmaak op elkeen." Minnaar het ook die hele Aberdeen-gemeenskap bedank vir die begrip en ondersteuning wat sy as waarnemende areabestuurder ontvang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’