NXUBA NUUS - Cradock Diereskuiling is baie dankbaar oor die besoek wat hulle op 24 April van Munchkins Dagsorg ontvang het.
“Ons is so opgewonde oor al die kospakkies wat saamgekom het,” vertel Karin Human, bestuurder by die skuiling.
“Ouers was gevra om elkeen ’n blikkie of pakkie troeteldierkos saam skool toe te stuur sodat elke kind dit persoonlik kon oorhandig by die skuiling,” sê LinMarie Barnard, eienaar van Munchkins Dagsorg.
Altesaam 17 kindertjies het met hul kosskenkings opgedaag vir die uitstappie.
“So leer ons ons kinders om ook te sorg vir diegene wat nie vir hulself kan sorg nie,” sê Barnard.
“Die kinders het dadelik gemaklik gevoel en het opgewonde uitgereik na die honde wat vrylik saam met hulle buite die hokke rondbeweeg het,” vertel sy.
“Die diere het die kinders werklik binne die veilige ruimte van die diereskuiling verwelkom, en was so liefdevol dat van die kindertjies hulle begin vryf het en saam rondgehardloop het.”
Hoewel nie elke kind ’n troeteldier tuis het nie, het hulle liefde in oordaad betoon aan die diere.
“Almal van Munchkins kon sien hoeveel die kinders omgee en hoe vinnig hulle geleer het oor die versorging van diere,” sê die personeel van Munchkins.
Tydens Graaff-Reinet Advertiser se onderhoud met Human, vertel sy van Miracle, ’n pragdier wat in Januarie by ’n vullishoop opgetel is.
“Sy was sterwend weens verwaarlosing. Sy was brandsiek, uitgeteer en verhongerd, en haar ore was geknip. Sy was met ’n graaf of dergelike voorwerp oor haar voorkop gekap, en ons het regtig gewonder of daar vir haar hoop was.
"Miracle het, nadat ons en die skuiling se veeartse haar met soveel liefde versorg het, verander in ’n pragdier met ’n fantastiese persoonlikheid wat net liefde gee, en vra. Sy is ook besonder besorg oor ander diere. Sy doen haar naam gestand!”
Human sê Cradock kan nie bekostig om sy diereskuiling te verloor nie, want hulle bedien al die dorpe rondom Cradock sedert die SPCA nie meer aktief in die area is nie.
“Die skuiling is afhanklik van fondse en kos; daarsonder kan dit nie funksioneer nie. Die skuiling het op hierdie stadium ook dringend ’n voertuig nodig.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’