GRAAFF-REINET NUUS - 'n Gedenkmonument wat bykans 30 jaar gelede sowat 20 km buite Graaff-Reinet by die Klipfontein-afrit langs die N9 opgerig is, het talle reisigers laat wonder oor die oorsprong daarvan en vele navrae is op sosiale media geplaas.
Sowat ses weke gelede het een van hierdie reisigers, Morné van Aswegen, ook met sy motorfiets by die monument stilgehou.
“Die krieketpaaltjies, met ’n krieketkolf wat daaroor kruis, en die koperplaat daarnaas, het my aandag getrek en ek het nadere ondersoek gaan instel,” sê Van Aswegen.
“Nadat ek die opskrif op die koperplaat gelees en ’n foto daarvan geneem het, kon ek die ouer van een van die seuns opspoor.
Charmaine Leonie se seun, wat die eerste naam op die koperplaat is, was Gudonov Arches Leonie.”
Krieketspan
Charmaine het hom vertel dat vyf leerders, lede van die Winterberg- krieket-ontwikkelinspan, op 26 September 1998 op reis tussen Middelburg en Graaff-Reinet op dié plek in 'n ongeluk dood is.
Die leerders was gr. 7-topleerder Gudonov Archer Leonie (13) en gr. 7-leerder Hilldreth Harmse (13), albei van Ellen Olivier Primêre Skool in Middelburg, Glenis Liaan (18), gr. 12 van Middeland Sekondêre Skool in Middelburg, asook twee gr. 12-leerders van Michausdal Sekondêre skool in Cradock, Vincent Olifant (18) en Reconnect Hefkie (18).
Opknapping
Aangesien van Aswegen self ’n skoonseun in ’n motorfietsongeluk verloor het, het hierdie scenario hom diep geraak en hy het besluit om aandag aan die monument te gee.
Verlede Vrydag, 17 Oktober, het hy dit gaan opknap en verfraai, en het aan die steeds treurende Charmaine ’n foto verskaf van hoe die monumentjie nou daar uitsien.
“Ons mag hulle nooit vergeet nie,” het sê Van Aswegen by navraag aan Graaff-Reinet Advertiser gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’