KAROO NUUS - Ten minste een keer per maand is hulle oppad dorp toe. Van Templevale na Hofmeyr, langs die R390.
Mossie en Charmaine is karretjiedonkies, gebore en getoeë op Templevale. Daar is vir hulle niks lekkerder as 'n vars appel of wortel nie.
Die Graaff-Reinet Advertiser het hulle net na 09:00 raakgeloop, toe hulle Dinsdag 20 Augustus, met hulle karretjie en eienaar en sy gesin, oppad was Hofmeyr toe.
"Charmaine is Mossie se ma," sê Michael Pergoor van Templevale. "Sy het hom mooi geleer, en hulle gaan graag dorp toe. Ons trek soggens 06:00 op die plaas weg, dan is ons 10:30 op die dorp. Vandag vat ek vir Ouma Lena en klein Kaylene kliniek toe. Gelukkig is daar koeltebome en water in die tuin. Vandag vat ek ook 'n paar stompe hout saam vir my pa, sodat hy sy kossie kan kook."
Mossie en Charmaine ken hul name en reageer opgewonde met 'n "hie-ho" as hulle geroep word.
Wees op die uitkyk vir hul karretjie as julle die R390 gebruik. Hierdie rustiger manier van reis raak al skaarser, maar Pergoor pas sy karretjie en donkies mooi op.
"Ek gaan nog lank die taxi wees wat mense dorp toe bring," glo hy.
Dit vat sowat 5 ure vir Mossie en Charmaine om hul karretjie dorp toe te trek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’