CRADOCK NUUS - "Ek wil 'n verskil maak en ek verkondig 'n boodskap van hoop. Dit is my opregte geloof dat as jou 'waarom' groot genoeg is, sal jy jou 'hoe' vind."
"Ek is gereed om Suid-Afrika by die Mev. Heelal-toekenningsgeleentheid in Suid-Korea te verteenwoordig."
So gesels Uyleta Nel-Marais (31), ná die nuus bekend geword het, dat sy as Mev. Heelal (Suid-Afrika) aangewys is. Sy is die dogter van pastoor Reggie en Lucille Nel van Cradock.
Sy is verlede week by die Barnyard-teater in Menlyn in Boksburg as Mev. Heelal SA vir 2021 gekroon. Haar eerste prinses is Heidi Betz van Lydenburg en tweede prinses Phumzile Ntshabele van Boksburg.
Nel-Marais sê sy wil by die Mev. Heelal-toekenningsgeleentheid haar hart oopmaak en die hele wêreld vertel van die verskil wat hoop kan maak.
Nel-Marais het in 2008 by Hoërskool Cradock gematrikuleer. Daarna het sy in 2009 by die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) met haar LLB-graad in die regte begin en het haar graad in 2014 voltooi.
Toe het sy by die prokureursfirma Lovius Block Incorporated in Bloemfontein met haar internskap begin. Gedurende 2016 is sy in die Vrystaatse hoog-geregshof toegelaat as prokureur en aktebesorger en in 2017 het sy as notaris gespesialiseer.
In 2019 is sy as 'n direkteur van Lovius Block Incorporated benoem.
Op hoërskool het sy goed gevaar in atletiek en ook haar skool in netbal verteenwoordig.
Sy het Kovsies ook in beide netbal en atletiek verteenwoordig en haar Vrystaatkleure daarin verwerf.
"Uyleta leef haar hoërskoolleuse - Nil Nisi Nitendo (Nothing without Effort) - uit en ons is baie trots op haar," sê Charles Garth, voorsitter van Hoërskool Cradock se alumni.
Sy het ook 'n passie vir modelwerk en het sy al by die New York-modeweek 'n verskyning op die loopplank gemaak. In Februarie 2020 is sy benoem as 'n finalis in die Top-Model Suid-Afrika-kompetisie.
Sy bestuur haar eie welsynsinisiatief, One Nation: Our Women and Children, waar sy noodsaaklike items bymekaarmaak vir gebruik deur vroue en kinders wat deur geslagsgebaseerde geweld geraak is.
Mev. Heelal (Suid-Afrika), Uyleta Nel-Marais, staan by haar ouers, pastoor Reggie en Lucille Nel van Cradock, by haar alma mater, Hoërskool Cradock. Tweede van links is die skoolhoof, Dirk Cronjé.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'