GQEHERHA NUUS - As naaste verwysingshospitaal vir die Dr. Beyers Naudé Munisipale distrik, is die Livingstone-hospitaal in Gqeberha ook die naaste hospitaal waar ’n mens sou verwag dat ortopediese ingrype beskikbaar sou wees in noodgevalle.
Volgens Parlementslid Jane Cowley, ook skadu-LUR vir Gesondheid, is dit egter nie die geval nie.
In ’n persverklaring op 24 April, sê sy dat daar klaarblyklik meer as 100 pasiënte is wat al vier weke wag vir dringende ortopediese operasies by dié hospitaal omdat die hospitaal na bewering nie ortopedies implantings in voorraad het nie.
Volgens Cowley veroorsaak hierdie vertragings ernstige skade aan pasiënte wat met pyn leef terwyl hul beserings vererger en die swaard van langdurige immobiliteit en onsekerheid oor die kanse op volle herstel oor hul koppe hang.
Sy sê die impak strek veel verder as die hospitaalsaal - dit beïnvloed pasiënte se vermoë om te werk, vir hul gesinne te sorg en hul waardigheid te handhaaf.
Tydelike alternatiewe
In die afwesigheid van behoorlike chirurgiese ingryping word pasiënte na bewering met tydelike alternatiewe soos gips-immobilisering en beperkte fiksasie met behulp van K-drade behandel.
Cowley waarsku dat hierdie nie aanvaarbare plaasvervangers is vir die prosedures wat pasiënte dringend benodig nie en dat dit kan lei tot ernstige komplikasies, insluitend infeksie, chroniese gestremdheid, mislukte genesing en selfs die dood.
Pasiënte dae lank op trollies
Sy sê ortopediese sale is oorvol, met pasiënte wat vir lang tye beddens beset terwyl hulle vir chirurgie wag.
Dit lei na bewering daartoe dat nuwe traumapasiënte dae lank op trollies in ongevalle-afdelings met beperkte verpleegsorg moet wag, wat beide pasiënte en personeel onder aansienlike druk plaas.
Soortgelyke terugvoer is ook aan die Graaff-Reinet Advertiser deurgegee deur pasiënte wat vanuit die afgeleë platteland na Livingstone-hospitaal gebring is.
Elektiewe operasies ook geraak
Pasiënte wat vir elektiewe operasies soos heup- en knievervangings wag, word ook geraak, met sommige wat na bewering jare wag terwyl die agterstand aanhou groei.
Die huidige wagtydperk, soos aan ’n pasiënt op die waglys deurgegee, is vier jaar.
Kwessie na minister geëskaleer
Die Oos-Kaapse LUR vir Gesondheid, Ntandokazi Capa, is genader om te hoor of daar formele data bestaan oor die psigososiale en sosio-ekonomiese impak van hierdie vertragings.
Die aangeleentheid is ook na die Minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, geëskaleer.
Cowley skryf die krisis toe aan swak beplanning, ondoeltreffende verkrygingstelsels, chroniese personeeltekorte en ’n gebrek aan verantwoordbaarheid binne die provinsiale gesondheidsdepartement.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’