RUGBY NUUS - Hoër Landbouskool Marlow se o. 15-rugbyspelers en sommige ouers, het van Saterdag 17 Junie tot Maandag 26 Junie na die Wes-Kaap getoer. 'n Besige en vol program is vooruitbeplan en hoewel die swaar reën in die Wes-Kaap sake effens bemoeilik het, het dit geensins hul geesdrif gedemp nie.
Die eerste stop was Maandag by Matjiesfontein. Hulle het daarna na Hermanus vertrek waar 'n wedstryd gespeel sou word - ongelukkig is dit gekanselleer as gevolg van swaar reën.
Dinsdag het die busse na Groenpunt-stadion vertrek en die kabelkarretjie moes 'n paar ritte maak om almal bo-op Tafelberg te kry - tussendeur is spanpraatjies gehou.
Woensdag het die span 'n besoek aan Franschhoek-motormuseum afgelê en Marlow het ook wedstryde teen Hoër Landbouskool Boland gespeel, maar ongelukkig het hul al die wedstryde verloor.
Donderdag het hul na Malmesbury gereis waar hul teen Hoërskool Swartland gespeel het met gemengde welslae. Daar was ook 'n uiteetgeleentheid by die Casino en 'n lekker fliek by Canal Walk.
Vrydag was daar groot opgewondenheid oor die besoek aan Cool Runnings in die Tygervallei en Two Oceans-akwarium. Die dag is afgesluit met ysskaats by die GrandWest Casino.
Die toergroep het 24 Junie op 'n bootrit in Houtbaai gegaan en ook middagete daar geëet. Die leerders het die park World of Birds en die IMAX teater in Cape Gate besoek.
Die amptelike toerprogram is op Sondag, met 'n besoek aan Cool Runnings en Le Bonheur-krokodilplaas, afgesluit. Die toerbusse het kuier-kuier teruggereis na Cradock en was teen Maandag 26 Junie tuis. Almal was lekker flou en gedaan en uitgekuier, met wonderlike herinneringe.
Die leerders geniet hulle eerste stop, Matjiesfontein.
Marlow-spelers buig die knie voordat hulle met alle mag inklim.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'