STEYNSBURG NUUS - Die inwoners by die Marais Steyn-tehuis in Steynsburg het 'n heerlike maskermiddag gereël vir die terugkeer van Ruth Donian wat in Port Elizabeth (Gqeberha) in die hospitaal was.
Ongelukkig was Ruth toe nog op pad vanaf Gqeberha, en het die feestelike verwelkoming gemis.
Ruth se liefde daarvoor om pragtig aan te trek het inwoners laat besluit om op die middag ook hul heel deftigste, mooiste klere aan te trek.
Ruth gaan nooit 'n dag sonder grimering en lipstiffie nie en tydens Graaff-Reinet Advertiser se besoek aan die tehuis op 30 Mei, was sy pragtig in poeierblou geklee, en met volle grimering, hoewel sy baie broos is.
Sy sien daarna uit om gou weer tussen haar geesgenote rond te kuier, skilderklasse by te woon, en heerlik te tokkel op die klavier in die tehuis se eetkamer.
Denise van der Merwe, wat op die bestuur dien, het haar alles gegee om die middag 'n groot sukses te maak.
Sy het vir elkeen 'n pragtige masker van Bloemfontein gebring en inwoners kon behoorlik kies en keur.
Van der Merwe het ook blitsvinnig ingespring en die muur by die ingang van die tehuis met 'n laag saliegroen verf opgehelder vir die groot verwelkoming.
Die middag is afgeskop met talle balonne, waarmee daar "musical chairs" gespeel is. Chariots of Fire is gespeel terwyl wenners aangekondig en pryse oorhandig is.
Die groot wenners is met trofees beloon. Die inwoners het ook nie teruggestaan toe die geleentheid hom voordoen om weddenskappe aan te gaan nie. Hettie Coetzee, Ian Coetzee en Coerien Steyn was die wenners.
Daarna is daar "kop gestamp" met sokkerballe, wat inwoners van kop tot kop moes aanstuur.
Ian Coetzee en Douw Kruger het die voortou geneem met karaoke en Lourens Erasmus het tog te lekker saamgesing.
Natuurlik het die bekende liedjies uit hul kinderjare die grootste aftrek gekry, met Green beret, Drummer boy en die Gebed van Koos du Plessis as die gewildstes.
Die tehuis het 'n tjok-en-blok program, met 'n groep wat Rocco de Villiers se konsert in Hofmeyr bygewoon het, en 'n prettige sing-en-kuierdag wat vir 11 Junie beplan word.
Nog steeds swak en moeg na haar siekbed, sê Ruth dat sy baie uitsien na die sing- en-kuierdag en hoop dat sy dié keer nie 'n oomblik sal mis nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’