GRAAFF-REINET NUUS - Jansenville se inwoners is raadop oor die dorp se voortdurende rommel- en rioolprobleme waarvoor geen oplossings gevind word nie.
Die nuutste frustrasie is die plas riool onder die brug by die uitgang van die dorp op die R75 na Uitenhage en Gqeberha.
Raadslid Mandy Deyzel sê dit word deur 'n verstopte mangat veroorsaak en die pomp by die rioolstasie is ook buite werking. "Dis nie die eerste keer wat die pomp probleme gee nie. Dis 'n meganiese fout wat al van 2021 aankom."
Riool in rivier
Die verstopte mangat is ongeveer 100 m van die rioolpompstasie wat op sy beurt weer sowat 30 m van die rivier is.
Die riool dam op en 'n stroompie daarvan loop in die Sondagsrivier. Die rivier is tans droog, maar die skadelike patogene sal na ander areas versprei sodra dit reën en die rivier begin loop.
Erge stank
Die riool veroorsaak 'n erge stank en nabygeleë besighede en huishoudings word ernstig geaffekteer. Bets Pienaar, een van die vennote van Ark in the Karoo-padstal wat ongeveer 500 m van die verstopte mangat is, sê hulle kan die reuk glad nie hanteer nie. "Dit is veral 'n probleem vir ons restaurantgaste.
"Ons vra maar verskoning en verduidelik die situasie en gelukkig verstaan die meeste mense."
Rommelprobleme
Die Graaff-Reinet Advertiser het voorheen berig oor die gebrek aan behoorlike vullisbestuur in Jansenville (Klagtes val op dowe ore, 28 November 2024).
Op daardie stadium is vullis oral gestort en gestrooi, maar net die hoofstraat is skoongemaak, terwyl ook die stortingsterrein in 'n haglike toestand was.
Die situasie het sedertdien nie veel verander nie. Volgens Deyzel het die munisipaliteit wel begin om die stortingsterrein op te ruim, maar dit gaan nie veel beter nie. "Dit lyk woes en dit gaan nie beter lyk nie omdat daar swak beplanning is en dit nie behoorlik bestuur word nie," sê sy.
"Ons weet tog dat al die stortingsterreine in die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit in elk geval non-compliant is omdat dit nie aan die toepaslike regulasies voldoen nie."
Geen terugvoer
Die Graaff-Reinet Advertiser het die munisipaliteit se Direkteur van Infrastruktuurdienste, Bennie Arends, gevra of daar enige planne in die pyplyn is om Jansenville se rioolprobleem op te los, maar teen druktyd het hy nog nie geantwoord nie.
Die munisipaliteit het begin om die stortingsterrein op te ruim maar Raadslid Mandy Deyzel is nie hoopvol dat dit enige verskil sal maak nie omdat daar, volgens haar, swak beplanning was en die opruiming nie behoorlik bestuur word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’