GRAAFF-REINET NUUS - Johann Weitsz van die plaas Heemstede, tussen Nxuba en Graaff-Reinet, is nou nie ’n knaap wat skrik vir koue pampoen nie.
As hy nie die pofadders, wat sy melkkoeie op die neus pik, aanvat nie, benader hy groot likkewane vanuit ’n ander hoek!
Hy het onlangs ’n yslike likkewaan sommer so met kaal hande gevang, toe dié reptiel ywerig besig was om sy skoonpa se hoenders se eiers te steel.
“Ek het dié groot seun, wat al vir ’n hele jaar my buurman en my skoonpa se hoenders veretter, veilig gevang, ná ’n moewiese geveg in die hoenderhok op The Meadows, en hom weer by Longacres se brug in die rivier vrygelaat,” vertel Weitsz.
Die likkewaan was ’n volle 2,2 m lank.
Likkewane is eierdiewe by uitstek, en vreet ook slangeiers.
Onder normale omstandighede is hulle vir enige tuinier en plaasboer ’n aanwins, maar hulle is ook ’n eierbemarker se grootste probleem.
Likkewane kan baie seer byt en die wonde raak baie maklik septies, want hulle vreet ook graag vrot goed. Hulle slaan ook met hulle sterte hul aanvallers met sweepslae.
Dit sit nie in elke man se broek om ’n likkewaan van dié grootte te vang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’