KAROO NEWS - Lexie Fourie (12), van Beaconsfield, Hofmeyr, is onlangs meegedeel dat sy gekies is vir die Sanesa Oos-Kaapse provinsiale ponie-uitdaag A-span.
Sy was deel van die provinsiale span wat die Oos-Kaap in die Sanesa SA jeugkampioenskappe verteenwoordig het by die Shongweni Durban-ryklub in KwaZulu-Natal, vanaf 28 tot 30 Junie.
Lexie is 'n leerder van Laerskool Cradock, en sy is die dogter van Jannie en Karenza Fourie, wat haar ook afrig.
"Lexie het al van 2-jarige ouderdom graag perdgery, en neem die afgelope vier jaar nasionaal deel. Haar geliefde ponie, Waaksaam Memoir, was net so opgewonde om saam te ry Shongweni toe."
Die res van die Oos-Kaapse span vir die jeugkampioenskappe was: Kelsey van Rooyen, Isabella Lovoie, Erin-Rae Ratcliffe en Marcia van Heerden - almal vanaf Gqeberha.
"Lexie en Waaksaam Memoir het die Oos-Kaap se vlag hoog gevlieg by die kampioenskappe," deel Janice Krause, die spanbestuurder van dié span mee, "sy het die 'Working Riding'-klas gewen op Waaksaam Memoir". Lexie en Waaksaam Memoir het ook ingestaan tydens die 'Show pony'-spanmaat waar sy 'n tweede plek behaal het."
"Hierdie span is nou bekroon as die SA Youth Challenge Pony Team Champions," sluit Krause af.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’