GRAAFF-REINET NUUS - Die heel eerste KhoiSan-taaluitreik en konsultasie werksessie is verlede week in Graaff-Reinet gehou.
Dié slypskool het dit ten doel gehad om bewustheid oor byna uitgestorwe inheemse tale in dié gemeenskap te bevorder.
Dit is beskou as 'n historiese gebeurtenis vir plaaslike KhoiSan-mense.
Die slypskool is bygewoon deur inwoners van Graaff-Reinet, Middelburg, Port Elizabeth, Uitenhage, Steytlerville, Klipplaat, Jansenville en ander Karoo-dorpe.
Taalspreker en NamaGowab-aktivis van die Wes-Kaap, Pedro Dausab en die 86-jarige aktivis Katrina Esau van die Noord-Kaap, het ook die slypskool bygewoon. Esau is bekend in haar provinsie vir haar eindelose stryd vir die oorlewing van die Khomani San. By dié geleentheid het die 'Pan South African Language Board' (Pansalb) oor KhoiSan tale soos die Khoekhoegowab, Nama, San en Damara tale gepraat.
Die PANSALB is 'n onafhanklike liggaam wat deur die regering en die Nasionale KhoiSan-raad gevorm is om voorwaardes vir die ontwikkeling van hierdie fundamentele tale te bevorder en te skep.
Tydens hul voorlegging is dit benadruk dat dié tale deur die eerste inwoners van Suid-Afrika gepraat is, waarvan tale soos isiXhosa en Afrikaans ook sekere woorde geleen het.
Stamhoof Brato Malgas meen terwyl Khoi-taal [Khoegowab] in die vorm van Nama, relatief vrylik in die Noord-Kaap en Namibië gepraat word, dit amper uitgesterf het in die Oos-Kaap.
Volgens Malgas vind die meeste van die ontwikkeling van hierdie tale in die Noord-Kaap plaas deur middel van hul skoolkurrikulum. Die res van die Khoisan in Suid-Afrika bly steeds daarvan ontneem.
Hy het verder gemeen dat daar ook ander dialekte soos die !Girigowab [Griekwa] en !Koragowab [Koranna] is wat nie oorleef het nie. San dialekte soos /NU kwedam, en /kungtali is tans in 'n oorlewingstryd.
Ander Khoekhoegowab-dialekte is byvoorbeeld die Kwedamtale met die wortels in die !Ngu en Kungtali van die Noord Kaap.
Die Khoekhoegowab is deur die volgende 15 stamme van die Khoekhoe (Khoi) gepraat en hulle is ondermeer: Nama, Namaqua, Einiqua, Korana, Gurique, Chochoqua, Hessequa, Attaqua, Gouriqua, Inqua, Gamtoos-Gamtouers, Damaqua en Gonaqua. Hierdie tale is glo deur die uitwissing van die Khoe-Khoe en Boesman heeltemal vernietig, behalwe vir die Nama-, Damara- en Kwedam-taal wat in die Noord Kaap, Namibië, Botswana en Angola nog tot vandag gepraat word.
Malgas het gesê die slypskool was 'n reuse sukses.
Aan die einde van die werksessie het die stamhoof Goab Daantjie Japhta van die Inkwa in die !Xamdeboo en Khoekhoegowab woordelyste en glossaria aan almal uitgedeel sodat hulle vertroud kan raak met dié bedreigde tale.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'