HOFMEYR NUUS - Elna Jordaan, die skoolhoof van die plaasskool, Schoombee Primêr, sê dat lentedag by hulle met vreugde gevul was.
Vroegoggend het die kleinspan met bosse veldblommetjies by haar kantoor opgedaag. Blommetjies wat hulle in die koue, langs die pad gepluk het terwyl hulle vir die skoolbus gewag het.
"'n Pragtige, bont mengelmoes het op my drumpel gewag toe ek my kantoordeur oopmaak. Die vreugde het in hul ogies geblink oor die groot geskenk wat hulle tot lentedag kon bydra."
Jordaan vertel dat Schoombee Primêr reeds lank beplan het om dié lentedag vir elke leerder spesiaal en anders te maak.
Charles Jordaan het leë 200 liter-dromme vanaf Middelburg aangery en groot hoeveelhede verf is aangekoop. Die skoolterrein is verfraai met geverfde dromme. Die ouers is ook genooi om na die kunswerke te kom kyk.
"Elke dorp in Suid-Afrika behoort so 'n projek van stapel te stuur sodat daar meer mooi en minder vullis sigbaar is," sê Jordaan.
Een van die kunswerke wat nou die speelterrein verfraai.
Leerders het met interessante ontwerpe vorendag gekom.
Leerders van Schoombee Primêr bederf die hoof met bosse veldblomme.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'