GRAAFF-REINET NUUS - 'n Groep leerders van Hoër Volkskool en Laer Volkskool het vanaf 30 Junie tot 4 Julie ’n onvergeetlike week in Burgersdorp deurgebring tydens die provinsiale Landsdiens-kamp.
Hoër Volkskool is trots op Luandré Rademan, wat gekies is om die nasionale kamp in Desember by te woon, en maak ook graag spesiale vermelding van Lisa du Toit, wat werklik uitgestaan en ’n indruk gemaak het, maar weens 'n beperkte aantal plekke beskikbaar, nie ingesluit is nie.
Die kamp is deur Burgersdorp Hoërskool en Laerskool in samewerking met Oos-Kaap Landsdiensbestuur aangebied.
Jeug van 17 Landsdiensklubs reg oor die Oos-Kaap het in Burgersdorp byeengekom waar hulle in koshuise tuisgegaan en alle etes genuttig het.
Aktiwiteite
Terwyl hulle die vier liefdes van landsdiens - liefde vir God, die natuur, jou medemens en jou omgewing - uitgeleef het, het die kinders nuwe vriende gemaak en meer oor leierskap geleer en, soos elke jaar, het daar 'n spesiale spangees ontstaan.
Die kamp het afgeskop met 'n warm verwelkoming, gevolg deur sterreverkenning onder die oop Karoohemel.
Die tweede dag het kampeerders se samewerking en uithouvermoë getoets met spanbou-aktiwiteite, 'n jolige kleurgeveg, bergstap, plante-identifisering en 'n insiggewende praatjie deur die polisie se K9-eenheid.
Die dag is afgesluit met sang en 'n geestelike boodskap.
Een van die hoogtepunte van die week was die uitstappie na Gariepdam, waar kampeerders 'n pontvaart meegemaak het, die binnekant van die damwal verken het en 'n besoek aan die hidro-elektriese kragstasie afgelê het – 'n ervaring wat volgens deelnemers enig in sy soort was.
Aktiwiteite wat ook aandag geniet het, was selfverdediging, handwerk, die opwindende “Code Breaker”/“Murder Mystery”-speletjie, handvaardighede, en praatjies oor bewaring van spesies en aasvoëls.
Die aand is afgesluit met 'n vrolike sokkie en die aankondiging van die nasionale Landsdieners.
Die kamp het Vrydagoggend tot 'n einde gekom met ontbyt, afskeid neem en vir oulaas herinneringe aan 'n besonderse week koester.
Cradock-Landsdieners
Volgens Cradock Hoërskool is vier van sy leerders ook verkies tot die nasionale Landsdienskamp.
Al hierdie leerders sien daarna uit om vanaf 5 tot 11 Desember by The Willows in Port Elizabeth te gaan kamp.
Justine Human, Ave Kiewiets en Dylan Olivier is tot die junior Landsdiensspan verkie, en Johané Mostert, Caitlin de Canha en JP le Roux tot die senior Landsdiensspan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’