CRADOCK-NUUS - Laerskool Cradock se 2025-revue was ’n reusesukses.
Die gaste het op die punt van hulle stoele gesit en aandagtig geluister, hande geklap en heerlik saamgelag vir die skerp dialoë.
Oeroue verhale is op ’n moderne wyse vertolk.
’n Storieverteller het vertel hoe ’n skelm houtkapper ryk geword het en die toneel het begin met ’n vegetariese wolf wat by Rooikappie se ma groentesop eet.
Een van die Drie Varkies was ’n emosionele eter met ’n stadige metabolisme. Sy het by Levinia Heksie - Storieland se slimste sielkundige - gaan kuier, wat almal se siektes dokter met ’n mengsel bekend as Ozempic.
Haar sekretaresse was Matewis Kat.
Sneeuwitjie was a ‘punk rockstar’ en die Avon-agent vir Storieland. Sy en haar prins het hul sewe baie besige seuns almal na die sewe dwerge vernoem.
Pinocchio was die Xhosa-sprekende Uber-bestuurder wat almal betyds by die bal moes kry.
Hy het ook vir Hansie en Grietjie opgelaai, wat ná hulle 28 dae dieet en ’n streng gimnasiumprogram baie gewig verloor het en nie meer lekkers geëet het nie.
Die paddaprins en prinses het ’n oomblik gehad toe sy hom met die soutpot terug in ’n padda wou verander, maar gelukkig het hy dit weggesteek voordat sy kon.
Die Storieland-bal was die hoogtepunt. Rooikappie se wolf en die Drie Varkies se wolf het mekaar ontmoet, en almal was bly om deel te wees van een groot familie.
Die Koningin van Harte was nie ten gunste van die houtkapper nie, totdat hy besluit het om sy mense in Storieland te kies eerder as al sy geld.
Hy het al sy geld aan die ACVV geskenk.
Alhoewel dié familie nie bloedverwant was nie, het die hele skool die saal gevul en “Uitverkore familie” gesing.
Hierdie sprokievertoning is afgesluit met ’n “en hulle het almal vir ewig gelukkig saamgeleef”, oftewel “fluit-fluit, die storie is uit”.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’