GRAAFF-REINET-NUUS - Die leerders van Laer Volkskool is ywerige fietsryers, en het op Saterdag 13 September aan die Toer de Noorsdoring in Jansenville gaan deelneem.
Twee van hierdie leerders, wat deel is van die Wildehonde-klub, het tussen sterk mededinging uitstekend gevaar.
Die spannetjie moes ywerig trap.
Christiaan de Klerk het kliphard oor 18 km getrap en het ’n algehele tweede plek en eerste Nipper-seuntoekenning ontvang vir ’n spogtyd van 01:16:38.
Bernard Delport het met mannemoed die 35 km aangedurf en voltooi dit in die algehele 17de plek, en wen ook die eerste Nipper-seuntoekenning met sy tyd van 02:10:52.
Hierdie fikse fietsryers gaan dit nog ver bring, en Laer Volkskool sien opgewonde uit na talle afstande wat hulle nog gaan aandurf.
Albei die wedrenne was oop vir alle ouderdomsgroepe, en dit maak hierdie twee jong leerders van Laer Volkskool se prestasies net nog meer besonders.
Harde werk en deursettingsvermoë is beloon!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’