CRADOCK NUUS - ’n Juwelier en kunstenaar van Cradock, Lou Venter, en ’n gastehuiseienaar en kunsliefhebber, Neville Prinsloo, het die voortou geneem om ’n uiters suksesvolle kunsuitstalling op 28 Februarie in Cradock te reël.
Dit is deur talle kunstenaars van Cradock ondersteun, en altesaam 114 van hul werke is uitgestal, onder andere Petro Michau, Linda Opperman, Luthando Ndabeni, Lou Venter, Anny Meiring, Jaco de Waal, Linda Gowar en Elrien Schutte s’n.
Skilderye is ook te koop aangebied.
“Die span het baie hard gewerk, en ’n topgehalte uitstalling op ’n uiters knap begroting georganiseer,” sê Prinsloo, ook die mediaskakelpersoon.
Wat hierdie uitstalling besonders gemaak het is dat dit in die geskiedkundige Kongregasionalistiese Kerk, wat uit 1821 dateer, gehou is.
Hierdie kerkie is ’n replika van ’n kerk in Harpenden, Engeland.
Die kerkgebou is in 1909 vergroot, en die 1974-vloede het dit ernstig beskadig.
In 1982 is die kerk tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Die gebou sal voortaan as die Heritage Arts Hub bekendstaan.
Liza Badenhorst, bestuurder van die Arts Hub, vertel dat hulle maandelikse uitstallings en ook informele markte beplan.
Die eerste Makers and Crafters Market het reeds op Saterdagoggend 1 Maart plaasgevind.
.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’