KAROO NUUS - Van die wêreld se langslewende mense is die Sardiniërs van Italië, wie se lewens sentreer om maaltye wat altyd met familie gedeel word.
‘n Ander groep is die Okinawane van Japan. Hulle kweek vriendskapsgroepe, genaamd moais, toegewyde groepe van vyf vriende wat lewenslank aan mekaar verbind bly.
Die wêreld se langslewende mense prioritiseer konneksie en kweek gesonde leefstyle wat op die grondslag van kameraadskap gebou is.
Elke mens het ‘n natuurlike behoefte om êrens te hoort. Die chemiese wetenskap hiervan behels dat wanneer daar aan hierdie behoefte om te behoort voldoen word, die oksitosien vlakke in die liggaam verhoog.
Oksitosien laat jou nie net gelukkiger voel nie, maar werk ook stresverwante gevolge soos hoë bloeddruk en verhoogde kortisolvlakke teë. Met al die uitdagings waarmee ons vandag te doen het, soos droogte en geweld, wie se stresvlakke is nie hoog nie?
Wie het nie die behoefte aan kameraadskap nie? Die woord ‘kameraadskap’ is een wat nie elke dag gebruik word nie, maar dis iets waaraan almal elke dag ‘n behoefte het.
En watter beter manier sou daar wees as om deur kuns mense weer bewus te maak en aan te spoor om na ander uit te reik? Kuns, die kommunikasie medium wat taalgrense oorbrug en reguit met die hart praat.
Ons Karoo en Kontrei het daarom ‘n kunsprojek begin met die tema 'Kameraadskap'.
Verskeie mikpunte:
- om mense bewus te maak van en te motiveer om kameraadskap deel van hul daaglikse lewe te maak;
- om plattelandse kunstenaars die geleentheid te gee om hul kunswerke met wyer markte te deel; en
- om geld in te samel vir ‘n organisasie, Karoo Calling, wat hul besig hou met die heropbou van die groter Karoo se gemeenskappe wat erg seerkry as gevolg van die droogte.
So maak mens:
Alle kunstenaars in die Karoo en omliggende omgewing word genooi om ‘n kunswerk met die tema ‘Kameraadskap’ gratis aanlyn op www.kameraadskap.onsknk.org.za in te skryf.
Die kunswerk moet op gestrekte seildoek van ongeveer 600 x 750 mm wees. Die medium is die kunstenaar se keuse en die wen-kunswerke moet ongeraam vervoer kan word.
Neem ‘n foto van die voltooide kunswerk en laai dit op die webwerf. Die publiek gaan stem vir die top-20, so hoe vinniger kunstenaars hul werk op die webwerf kry, hoe meer potensiële stemme kan die kunstenaar kry.
Die sluitingsdatum is 30 April, maar moenie wag tot dan om in te skryf nie.
Top-20 by ses feeste:
- Stoep Tasting: 25 tot 27 Mei (Nieu-Bethesda).
- Olive Schreiner Karoo Writers Festival: 16 tot 20 Junie (Cradock).
- Victoria-Wes Wildsfees en duiwe fly-in: 23 en 24 Junie (Victoria Wes).
- Vrystaat Kunstefees: 11 en 15 Julie (Bloemfontein).
- Veldblommeskou: 25 Augustus tot 3 September (Clanwilliam).
- Kalahari Kuierfees: 28 – 30 Sept. (Upington)
Drie kategorieë:
Daar is drie kategorieë waarin deelgeneem kan word: Professioneel, Amateur, en Kinders 13 en onder. In elk van die kategorieë is daar pryse vir die 2 topkunswerke.
Die pryse is geskenkbewyse wat by enige van die familielede van Ons Karoo en Kontrei se splinternuwe aanlyngids vir die Karoo en omliggende platteland verhaal kan word (sien terme en voorwaardes op webwerf).
Rig navrae aan adri@onsknk.org.za gerig word.
Webwerwe:
Vir kunstenaars om in te skryf: www.kameraadskap.onsknk.org.za
Vir Ons Karoo en Kontrei se aanlyngids, besoek www.onsknk.org.za en word deel van die familie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’