GRAAFF-REINET - Op 18 Januarie 1902 is Gideon Jacobus Scheepers, op die ouderdom van 23, tereggestel op die dorpsplein in Graaff-Reinet vir beweerde oorlogsmisdade.
Hy was 'n militêre leier, verkenner en heliograaf in die Anglo-Boereoorlog en het gedien onder generaal Christiaan de Wet.
Sy teregstelling, na 'n twyfelagtige verhoor, het mense nie net in Suid-Afrika geskok nie, maar ook wyd reaksie in die buiteland ontlok.
Sy lyk is in 'n onbekende graf begrawe en nooit gevind nie.
Alhoewel hy homself tydens die oorlog as krygsman onderskei het en op 'n baie jong ouderdom tot die rang van kommandant gevorder het, was dit sy teregstelling wat hom verhef het tot 'n Afrikanermartelaar.
In Graaff-Reinet word Gideon Scheepers onthou met die Gideon Scheepers-gedenknaald op die Murraypad buite die dorp naby die plek waar hy tereggestel is.
Op die hoek van Donkin- en Somersetstraat staan die Anglo-Boereoorlog-standbeeld, 'n huldeblyk aan agt Boeresoldate wat tydens die Anglo-Boereoorlog op die kerkplein in Graaff-Reinet tereggestel is.
Die beeld bestaan uit 'n staande figuur met 'n geweer en 'n gestorwe soldaat. As jy mooi kyk, sien jy die gesig van generaal Christiaan de Wet in die staande figuur en op die gesig van die gestorwe soldaat, Gideon Scheepers, een van sy baie bekwame verkenners.
Twee inwoners van Graaff-Reinet het op 18 Januarie vanjaar, 119 jaar ná Scheepers se dood, namens die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) 'n krans vir Gideon Scheepers gaan lê by die gedenknaald en daarna die krans gaan neerlê by die Anglo-Boereoorlog-standbeeld.
Paul van den Berg en Anne-maree Vorster by die Anglo-Boereoorlog-standbeeld.
Elizma Smith, koördineerder van die FAK-Kultuurnetwerke in die Wes-, Oos- en Suid-Kaap, het Paul van den Berg en Anne-maree Vorster bedank.
"Oom Paul reël al reeds vir 22 jaar jaarliks 'n geleentheid by die Gideon Scheepers-gedenknaald. Hy ken die Gideon Scheepers-storie baie goed en was 'n draer by die begrafnis van Gideon Scheepers se moeder in Pretoria. Anne-maree is betrokke by Vriende van die Groot Kerk op Graaff-Reinet en lid van die FAK se kultuurnetwerk op Graaff-Reinet."
Die FAK het in 2019 ter viering van sy 90ste bestaansjaar besluit om kultuurrade, oftewel kultuurnetwerke soos hulle nou bekend staan, weer tot stand te bring.
Daar is ook al meer as nou 15 FAK-Kultuurnetwerke landwyd.
Om betrokke te raak by dié kultuurnetwerk in Graaff-Reinet, kontak vir Elizma Smith by elizma@fak.org.za.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'